Vir ses dekades al gebruik ereveldwagters hul tyd, ervaring, vaardighede en kundigheid om 'n helpende hand te verleen in die beskerming van Suid-Afrika se ryk natuurlike erfenis in die land se 23 nasionale parke.
"Die ereveldwagters se toewyding spruit uit 'n groot liefde vir die natuur. Dit is 'n inspirasie en 'n voorreg om dit te ervaar," sê Paul Colditz, die nasionale voorsitter van die SANParks Honorary Rangers. Hy verduidelik dat die organisasie se omvang oor die jare uitgebrei het om fondswerwing, opvoeding en steun aan veldwagters en honde-eenhede in te sluit.
"Tans is daar meer as 2 200 ereveldwagters - almal vrywilligers - wat in 31 streke in die land betrokke is by meer as 180 aktiewe bewaringsprojekte." Die grootste gedeelte van die fondse word toegeken aan bewaring, steun aan veldwagters en teenstropings-inisiatiewe, soos geïdentifiseer deur SANParke. Paul sê die werksverhouding met SANParke is uitstekend en die twee organisasies werk op alle vlakke saam.

Ter viering van 60 jaar se passie vir die natuur in ondersteuning van SANParke word verskeie geleenthede en fondswerwingsveldtogte beplan. "Ons vieringe bereik 'n hoogtepunt van 9-14 September by die Nasionale Indaba in die Tuinroete Nasionale Park," sê Paul. Hierdie geleenthede laat lede van die publiek en ondernemings toe om bewaringsprojekte te ondersteun en daarby betrokke te raak deur skenkings, borgskappe en die bywoning van geleenthede.
Die organisasie het 'n paar groot nasionale projekte, byvoorbeeld die K9-projek waar hondeliefhebbers verskeie bydraes kan lewer, of die organisering van sportgeleenthede in nasionale parke. Die Embrace-projek is betrokke by programme wat omsien na die emosionele welstand van veldwagters wat byvoorbeeld in teenstropings-eenhede werk.
Ereveldwagters se betrokkenheid strek veel verder as veldwerk. "Ons lede neem deel aan verskeie projekte, van korporatiewe fondswerwing tot aktiwiteite in die parke. As 'n vrywilliger sal jy dalk betrokke wees by die organisering en aanbied van 'n boskamp of 'n voëlkyk-naweek, of jy kan deel vorm van 'n groep wat indringerplante verwyder. Talle lede doen diens in ruskampe of by parkhekke om SANParke-personeel te ondersteun."
Paul sê voornemende ereveldwagters moet eers 'n oriënteringskursus bywoon en ook 'n minimum van 50 ure se diens verrig voordat volle lidmaatskap toegeken word. "Om aktief deel te wees van die bewaring van die natuur-erfenis waarvoor Suid-Afrika wêreldbekend is, is nie net op 'n persoonlike vlak sielsverrykend nie maar is ook 'n belegging in die toekoms van ons land."
Besonderhede van aktiwiteite ter viering van die 60ste bestaansjaar sal op die organisasie se webtuiste gedeel word.













