LW
Hierdieartikel het oorspronklik in Maart 2019 verskyn. Feite en geite kon intussenverander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.
Foto's: Willem van der Berg
Wegkruip in die Namib-woestyn... Dís wat die twee Duitse geoloë Henno Martin en Hermann Korn van Windhoek besluit het met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Hulle wou nie deel hê aan die geweld nie en het twee en 'n half jaar lank in die Kuisebcanyon en omgewing oorleef. Hulle hond, Otto, was ook saam. (Lees oor hulle avontuur in Henno se boek The Sheltering Desert. - Red.)
Die Kuisebcanyon is in die Namibdeel van die Namib-Naukluft- nasionale park. Die suidelike dele van die park, die Sesriem/Sossusvleideel en die Naukluft, is bekend. Besoekers stroom hierheen vir foto's van die rooi duine en om oor Sossus- en Dooievlei te stap.
Die agt dae lange Naukluft-staproete kronkel ook deur dié deel van die park. Hier is kampplekke met badkamers, krag, water en restaurante. En toeriste.
Maar in die noorde van die park, die Namibdeel, lê die boskampe doer in die vlakte met net die sterre vir geselskap. Behalwe 'n paar puttoilette is hier geen geriewe nie.
Hierdie stil kant van die park lê rofweg tussen die Swakoprivier in die noorde en die Kuisebrivier in die suide, met die besige C28- en C14-pad na Swakopmund en Walvisbaai wat daardeur sny. Hoewel dié stuk woestyn heel toeganklik is, kom hier - nes in Henno en Hermann se tyd - nie juis mense nie.
Dis 80 jaar later en ek en my vriend Conrad Bornman is ook lus vir wegkom van die wêreld af; dus klim ons op die C28 en mik vir dié stuk woestyn skaars 'n halfuur se ry van Swakopmund af. Oor die volgende paar dae gaan ons ry na die Tinkasvlakte in die ooste, dan suid deur die Tumasvlakte en oor die C14 tot teen die Kuisebrivier wat ons dan noordweswaarts terug volg tot op Walvisbaai.

Langs die pad lê die aarde verblindend wit en kaal. Dit lyk asof niks hier lewe nie, maar as jy uitklim en op jou hurke sit, sien jy ontelbare stukkies korsmos wat wag op die oggendmis. Ook toktokkies, litjiesbos en spekbos.
Sowat 30 km wes van Swakop kan jy op die maan loop - wel, soort van. Die spierwit vlakte val weg in honderde skeure en klofies. Swart spitse staan uit soos reusagtige versteende kiestande. Maanlandskap heet dié kol.
Dit lyk soos die plek waar alles begin het: 'n Oeroue myn waar die berge, bome en die eerste diere uitgegrawe is. Ook die Melkweg en die son. Vir seker die son. Want die grond is verbrand.
Die pad kronkel tussen die swart tande deur tot by die droë loop van die Swakoprivier. 'n Lugspieëling glim in die verte... Maar die palmbome word nie dowwer terwyl ons nader ry nie. Goanikontes Oases, beduie die bordjie langs die pad.
"Dit is die tuin van Eden," sê Conrad.
Ons word vriendelik ontvang deur René Baard en haar man, Charl. Hulle is die nuwe eienaars van die gasteplaas en bied vandag 'n Vadersdagete aan.
"Hier is altyd mense op Sondae. Hulle raak moeg vir Swakop en Walvis se koue en mis en dan kom sit hulle hier in die son," sê Charl.
"Ons weet nie presies hoe om Goanikontes uit te spreek nie, maar dit beteken glo ‘om jou baadjie uit te trek'. Dis wat die mense kom doen."
Hy wys ons die yslike swemgat vol fonteinwater. Dis dié fonteine wat van Goanikontes 'n oase maak, al is die water sout.

Onder 'n suidwesdoring staan 'n ou Mercedes met 'n dakrak, twee noodwiele bo-op die kattebak en 'n knewel van 'n bosbreker vooraan. Die tjor is versier met agterstevoorom Namibië- en Donald Trump-plakkers. Teen die Mercedes se kante staan in groot letters: Nambia.
"Ons het nou die dag die Rough and Tough Rally gehad. So vier dae deur die Damaraland en net met ou karre. Daai was my rysieskar," verduidelik Charl.
Teen die bestuurder se deur staan inderdaad "Driver: C Baard, Blood: Riekielouw". En teen die passasiersdeur "R Baard, Blood: Tall Horse".
"Dis nie net 'n manneding nie. Ons vroue en kinders ry saam. Selfs my seun se kleintjie van twee was deel van die avontuur. Ons jaag nie. Ons sit meer vas in die sand en kuier langs die pad. Groot sports, groot sports. En daarmee samel ons 'n klomp geld in vir die kankervereniging."
Later is al die gaste weg en René dek vir ons 'n tafel. Borde vol vleis, groente en slaaie word uitgedra, en wyn oopgemaak. En ek besef: Al maak die mensdom jou hoe moeg, is dit ook mense wat sorg vir wonderlike verrassings soos dié.
Dis laatmiddag wanneer ons in die pad val. Die son soek al 'n sagte holte in die rivierloop en ons moet nog by Bloedkoppie kamp opslaan.
Ons kry 'n mooi kampplek noord van Bloedkoppie. Voordat ons afpak, klouter ons die kop uit. Die rooi gloed van die son kom van die weste af, loop op in die Swakoprivier, oor die Husabberg en hier neffens ons oor Langer-Heinrich se skurwe rug en dan af in die Tinkasvlakte, tot dit opdam teen die Onanis- en Goagosberg.
Die bloed suis in my ore. My hart pomp deinings wat ek teen my tone en vingerpunte voel slaan. In 'n woestyn is 'n mens soveel meer daarvan bewus dat jy leef, en van alle ander vorms van lewe.
Die sterre hang laag, net bo ons vuurtjie. Twee silwerkleurige spokies verskyn in die lig van die vlamme. Dis twee draaijakkalse. Hulle snuffel heelaand om ons rond.

Vroegoggend vang die kokerboom se stekelvingers die son se eerste strale. Ons tekkies se geknars op 'n sebrapaadjie is die enigste geluid onder die blou uitspansel. Ek wens ek kan elke dag 'n draai om Bloedkoppie loop voordat my rekenaarskerm my enigste uitsig word. Ons wil gaan kyk hoe lyk die kampplekke by die Tinkasboogrots sowat 20 km noordoos van hier. Die tweespoorpaadjie soontoe seil oor rotse, in rivierlope af, draf 'n ent saam met 'n hiënaspoor en kruip dan deur 'n landskap vol swart klippe totdat dit naby die Onanisberg doodloop.
Hier is 'n paar kampplekke teenaan holgewaaide rotswande. Eenkant staan die rots wydsbeen bo-op 'n steil bultjie.
Dis koel in die boogrots se skaduwee. Van hier af kyk jy uit oor kaal vlaktes waardeur klipperige are loop. Om jou hou grysblou berge en pikswart rante wag. Ons kan nie ophou kyk nie. Basta, vandag ons ry nie verder nie.
Later sit ons in ons kampstoele en sien 'n troppie sebras wat in 'n ry oor die vlakte drentel. En wanneer die klippe 'n sagte goud raak, gaan sit ons bo-op die boogrots en wag dat die skaduwees oor ons sluip. Nes die skemerte op ons neersak, blaas die woestyn haar koel asem oor haar verbrande vel.
Stiltetyd in die woestyn
Vanoggend ry ons traag van die boogrots af weg. Eers terug Bloedkoppie toe en dan suid deur die Tinkasvlakte. 'n Trop sebras galop oor die pad. 'n Stofwolk volg hulle deur die ooptes. In die Hotsaswatergat se omgewing sien ons heelwat wild: Aasvoëls, springbokke, gemsbokke, nog sebras... selfs 'n kameelperd.
Van Volstruishoogte af sien ons wraggies 'n klomp volstruise. Die Tinkasvlakte lê nou agter ons en ons vaar die Tumasvlakte in.
Groot kolle spierwit boesmangras staan wag in die son. Strepe sebras dryf kort-kort verby in die lugspiëelings. Ons eet gisteraand se oorskiethoenderboudjies in die koelte van 'n kameeldoring, en om water te bespaar, drink ons bier.
Die stofpad sluit by die C14 aan. 'n Entjie oos lê die Kuisebcanyon, Henno en Hermann se skuilplek. Net wes is 'n mooi uitkykpunt oor 'n bleek vlakte. Kameeldorings staan tou in 'n droë lopie in die Langer-Heinrichberg se rigting. Ons ry oor die C14, en mik vir die Mirabib-koppie se oranjebruin granietlyf wat op die horison uitsteek. Op pad soontoe staan 'n reënmeter wat aan 2 mm water vashou.
Verder in die veld sien ons vier eienaardige bome. Dis die enigste plante wat bo die skeenhoogte boesmangras uitstaan. Dit lyk na klein kremetarte.

Maar as ek by die boom kom en my hande op die gladde, blink stamme sit en die koel lewe binne voel, kan ek nie anders nie as om te dink dis geeste wat nie die Namib wil verlaat nie. Later lees ek dié skaars bome, Moringa ovalifolia, word in die volksmond sprokiesboom of ghost tree genoem.
Dit is asof Mirabib op 'n dag van Mars af hier neergeplof het. Sommige jare is dit 'n klipeiland in 'n see van gruis en sand, maar vanjaar is dit 'n eiland in 'n see van blink boesmangras. Dankie vir daardie 2 mm.
Laatmiddag sit ek en Conrad 'n ent uitmekaar en kyk hoe die son die gras aan die brand steek. Dis stiltetyd. 'n Heilige oomblik waarna elkeen later op sy eie manier sal verlang. Rondom my buig die gras hulle hoof.
Die westewindjie gooi sy arms om my, Conrad, die warmgebakte rotse, die sebras, gemsbokke, volstruise en die stil geeste in die sprokiesbome. Uit die grond kom die geitjies se ge-kie-kie-kie-kie-kie. 'n Applous. 'n Gejuig vir die lewe.
Die lewe langs 'n droë loop
Van Mirabib af loop die pad sowat 40 km suidwes tot by die Kuisebrivier. Suid van dié droë loop staan die Namib se massiewe rooi duine stil. Asof hulle gewaarsku is: In dié rivier gaan julle verdrink.
Hier bly wel mense al langs die Kuiseb tot amper by Walvisbaai. Die huisies is meestal van sink en hout; 'n paar van stene. Hier en daar loop 'n donkie of boerbok. Die strepie groen bome krimp ineen tussen die duine aan die een kant en die kaalte aan die ander kant.

Ons hou stil by 'n begraafplasie. Hier is dit selfs taai om dood te wees. Op die grafte lê bottels met water, die meeste al droog gebrand. 'n Seningrige man kom uit die naaste huisie aangestap.
"Dis onse mense wat hier lê. Die Topnaars," beduie Ukos Kham.
Hy is 'n voorman van die gemeenskap in dié kol wat Soutrivier genoem word. En die Topnaars wil net hier teen die Kuiseb bly, sê hy.
"Ons is woestynmense. Namas, Khoi, jy sien.
"Vroeër jare het ons gejag ook. Nou moet ons ons eie vleis aanhou. Die meeste mense het 'n paar bokke en beeste. Ons voer hulle die anaboompeule. As hier gras is, vreet hulle dit. Maar hier is min kere gras. Die !narra is eintlik ons hoofkos. Maar nie vir die diere nie, vir ons. En ons het darem 'n lewende fontein met soet water. Julle kan kom proe."

Ukos stap voor met Jamie in sy arms. 'n Wit-en-bruin brakkie met net een oog. Op die oog af lyk Ukos se huisie bra vaal met geroeste plate en leiklip, maar as jy na die voorkant stap, is dit 'n kleurryke oase. In die koel skadu van 'n afdak is 'n mengelmoes van kleure, liefdesboodskappe, die !narra se wetenskaplike naam en Bybelverse geverf. Stokke wat soos slange geverf is, gluur van die mure, bome en grond af.
"Ja, ek hou van slange," beaam Ukos. Hy bly saam met sy ma, Matilda. 'n Vrou wat net Nama praat. Ukos skep water uit die emmer met 'n geel blikbeker.
"Jy kan proe. Dis lewende water." Die water is koel en soet. Die blikbeker ruik na rook.
Toe ons twee uur later op die bedrywige Walvisbaai stilhou vir inkopies, drink ek weer water. Gebottelde water. Dit ruik nie soos Ukos se blikbeker nie en laat voel my nie so gelukkig soos by die Soutrivier nie.
En ek weet sommer nou al. Die gemis na die water, die ooptes en die mense van die Namib gaan 'n droewige affêre wees.
Want hier kry jy weer krag vir die wêreld sonder sprokiesbome.

Weet voor jy waai
Paaie
Die grondpaaie in dié deel van die park is netjies geskraap en kan met 'n 4x2 met redelike grondvryhoogte gery word. Die pad van Bloedkoppie na die Tinkasboogrots en ook na die Tinkasdam is rowwer, maar jy sal nie sommer 'n 4x4 nodig hê nie; wel 'n hoë grondvryhoogte.
Brandstof
Slegs op Swakopmund en Walvisbaai. Solitaire het ook brandstof en is sowat 80 km van die Kuisebcanyon af. Ons het altesame 500 km gery en nie nodig gehad om ekstra brandstof saam te ry nie.
Waar bly ek?
Die boskampe word op die kaart aangedui - jy bespreek nie 'n spesifieke staanplek nie - ry rond en saal af by die een waarvan jy die meeste hou. Hier is genoeg staanplekke, en die meeste is ver uitmekaar sodat jy nie gesteur sal word nie.
Die mooiste en stilste kampplekke is by Bloedkoppie, die Tinkasboogrots en Mirabib. Vogelfederberg se kampplekke is teenaan indrukwekkende granietrotse, maar na aan die C14. Homeb is teen die loop van die Kuiseb en onder digte anabome, maar jy het geen uitsig nie en dit is nie so stil soos die ander plekke nie omdat hier 'n Topnaar-gemeenskap naby is.
Die enigste geriewe is 'n puttoilet. Jy moet selfversorgend wees en genoeg water en hout saamry.
Die enigste formele blyplek en kampplekke met ablusies is by Goanikontes Oasis. Daar is staanplek met gemeenskaplike ablusies, staanplek met eie badkamer en chalets.
Koste
Kry 'n permit by die departement omgewing en toerisme op Swakop.
Kontak
Die Swakopmund-kantoor op die hoek van Bismarck- en Sam Nujomastraat: 00 264 64 404 576. Goanikontes Oasis: 00 264 405 976 of soek hulle op Facebook.














