Stella Thorpe van Tergniet in die Suid-Kaap het dié foto ingestuur. Sy skryf: "Toe ek klein was, het ons op Oudtshoorn gewoon, en dit was 'n groot bederf om vir besoekers die Kangogrotte te gaan wys. My pa, R.R. Logie, het dié foto in 1931 se Kersvakansie by die grotte se ingang geneem toe familie kom kuier het.
"My ma, Sarah, staan met my - 'n baba van nog nie eens 'n jaar oud nie - op haar heup; aan haar regterkant staan my Henstock-grootouers, en aan haar linkerkant my ouer suster, Sylvia. Die vrou met die groot wit hoed is my ma se suster, Lily, en die man met die gestreepte baadjie haar broer, Gerrit. Die man agter Sylvia onthou ek nie - hy was dalk 'n kêrel van my tannie, of 'n familievriend."

Hoewel die Kangogrotte 80 000 jaar gelede glo al mense gehuisves het, is dié grotte in die Swartbergreeks noord van Oudtshoorn eers in 1780 deur 'n skaapwagter "ontdek".
Kort daarna het drie manne, Van Zyl, Oppel en Windvogel, dit verder verken. Die storie het geloop, en kort voor lank het nuuskieriges in die grot kom rondsnuffel, hulle name teen die mure uitgekerf en selfs stalagtiete en -miete as aandenkings afgekap.
Lord Charles Somerset, destydse goewerneur aan die Kaap, het egter in 1820 'n stokkie voor dié vandalisme gesteek toe hy opdrag gegee het dat die grotte bewaar moet word.
Die grotte is 70 jaar later vir besoekers oopgestel en verskeie gidse is aangestel, van wie veral Johnny van Wassenaar (1881-1934) onthou sal word oor die talle ontdekkings wat hy gemaak het. Van Wassenaar was byvoorbeeld verantwoordelik vir die ontdekking van 'n roete deur Kango 1 - die voorste 1,2km van die grotte waartoe besoekers toegang het.
In 1972 het die gidse Luther Terblanche, James Craig-Smith en hulle assistent, Dart Ruiters, nóg 'n stuk grot van 800m - Kango2 - gevind, en in 1975 is nóg tonnels tot op 'n totale lengte van 5,3km ontdek.
Die Kangogrotte is heeljaar oop van 9vm.-4nm. (behalwe Kersdag). 'n Erfenistoer kos R100p.p. (R60 vir kinders) en die Avontuurtoer R150 p.p. (R90 vir kinders).
Bespreek by 044 272 7410 of reservations@cangocaves.co.za.
Bronne: Die Kango-grotte; Wonders van Afrika deur Dawid van Lill
ONS SOEK JOU KIEKIES.
Het jy ou swart-wit foto's wat die stories van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na suzaan.hauman@media24.com.













