
Oor waarom die N1 se roete verander is, hang daar ná al die jare steeds 'n vraagteken, maar dis moontlik omdat die regering destyds wou spog met die nuwe Verwoerddam. Die dam (vandag die Gariepdam) is neffens die N1 en immers steeds die grootste in die land.
Die R717 tussen Colesberg en Philippolis loop om en oor talle mooi klowe en koppe, wat padbouwerk bemoeilik. 'n Pad met draaie het dikwels meer motorongelukke, en die insleepdienste op Philippolis het gedy.
Die dam (vandag die Gariepdam) is neffens die N1 en immers steeds die grootste in die land.
Dié "Toe"-foto is rondom 1932 voor Hattingh se Garage langs die Jacobson-gesin se Victoriaanse herehuis geneem. Hoewel daar op die motor "Crash Squad" staan, het hy 'n Kaapstadse nommerplaat en daar is geen sleepstang nie. Boonop is die woord "film" daarop te sien. Dié voertuig het dus waarskynlik niks te doen gehad met 'n regte insleepdiens nie.
Toe het dié straat nog Kerkstraat geheet, maar dit is kort daarna, in 1938, herdoop tot Voortrekkerstraat vanweë die herdenking van die Groot Trek. Die hoofstraat was toe nog nie met bome omsoom soos deesdae nie.
Helaas is Hattingh se Garage wat uit 'n dubbelverdieping bestaan het, dekades gelede al gesloop en dié ruimte doen nou diens as die Nienaberplein. Wat 'n jammerte is dit nie dat die brandstofpomp waar DKW-petrol te koop was, verlore is nie!
Die Jacobsons het later die huis aan die munisipaliteit geskenk en dis nou Philippolis se biblioteek. Dié perseel en die aangrensende Transgariep-museum is later teen miljoene rand deur die Vrystaatse regering gerestoureer.
Loer by philippolis.org.za of philippolis.co.za vir meer inligting oor die oudste nedersetting in die Vrystaat.
Hierdie artikel is geneem uit ons argief. Feite en geite kon intussen verander het. Laat weet gerus as jy so iets raaksien - stuurgerus 'n e-pos na digitaal@weg.co.za.
Ons soek jou kiekies!
Het jy ou swart-wit foto's wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na redakteur@weg.co.za.













