Die jaarlikse Kaapstadse Internasionale Vlieërfees word op 29 en 30 Oktober gehou. Dié byeenkoms in Muizenberg trek entoesiaste van so ver as Kanada, China, Singapoer en Nieu-Seeland.
Vanjaar se tema is "Born to Fly" - kom kyk hoe die kleurryke kunswerke deur die lug sweef en voel jou hart saam ligter word.
Bring die gesin vir 'n dag van vars lug en pret. Daar gaan gratis vlieërmaak-werkwinkels wees, wat sessies met die meestervlieërmaker Ebrahim Sambo insluit. Hy sal julle wys hoe om 'n tradisionele swaeltjie-vlieër te maak.
Jy kan ook 'n vlieër koop (of jou eie bring) en dit van die grasperk van die Zandvlei-natuurreservaat af vlieg. Loer agterna in by die kos- en handewerkstalletjies en hou piekniek.
Die fees is ten bate van Cape Mental Health, 'n nie-winsgewende organisasie wat al vir 103 jaar werksaam is.
Kyk net hierdie ongelooflike foto's van vorige vlieërfeeste.

Wanneer? 29 & 30 Oktober
Waar? Zandvlei-natuurreservaat, Muizenberg
Tyd 10 vm.-6 nm.
Koste R30 per volwassene; R10 per kind jonger as 12
Kontak 021 447 9040; www.capementalhealth.co.za; www.facebook.com/CTKiteFest














