Roland en twee vriende het nadat hulle graad gevang het, vir drie maande deur Afrika fietsgetrap, van Kaapstad tot Tanzanië. Een van hulle gunsteling-herinneringe was in Namibië, iewers tussen die Ai-Ais-Richtersveld-oorgrenspark en die Gondwana Canyon-natuurpark. Roland vertel:
"Dinge was maar knap in die driemantent en ons was verlig as ons buite onder die sterre kon slaap. Dié aand is die nagstilte versteur 'n geluid wat soos 'n leeu se gebrul klink... baie naby aan die tent. Ons was binne sekondes terug in die tent. Die klanke het deur die loop van die nag al nader gekom en ons harte het al harder geklop.
Die volgende oggend is ons paranoia verder beaam toe ons verskeie spore, omtrent so groot soos 'n handpalm, in ons kamp sien. Later op ons toer het ons verleë besef die "spore" is eintlik die onderkant van ons waterhouers en dat die "leeu" eintlik 'n volstruis was!
Voor jy jouself 'n papie lag, gaan Google eers "ostrich" en "booming sound" op die internet.
Die volstruiskenner Adriaan Olivier antwoord:
Dit is wel so dat hulle brom-brul-geluid baie soortgelyk is aan die brul van leeus en dat dit daarmee verwar kan word.
Let egter op dat hulle brom uit drie lettergrepe bestaan, wat drie keer herhaal word, dis nou as jy tyd het om te luister en nie besig is om die naaste boom te soek nie.Hulle brom ook meer in die laatmiddag en aand, juis die tyd wat leeu se kind sy teenwoordigheid bekend maak. Klank trek ook baie verder in die koeler aandluggie wat hulle baie nader laat klink as wat hulle regtig is.
Volstruise is in die algemeen nie baie luidrugtige diere nie en dit is die mannetjies se brul wat gehoor word. Mannetjies brom waarskynlik soos ander voëls of diere om hulle gebied aan te dui en mededingers af te skrik.













