Reis

Vul jou glas in Stone Town, Zanzibar

Foto's Toast Coetzer

HOU DIE BLOU KANT BO. Om bloot by 'n straatkafeetjie met 'n uitsig oor die see (en die driehoekseil van 'n dau doer ver) stil te sit is pure plesier in Stone Town, Zanzibar. Skryf daai poskaart huis toe, lees nog 'n hoofstuk uit jou storieboek...Hierdie foto is by die Baboo Café geneem.
HOU DIE BLOU KANT BO. Om bloot by 'n straatkafeetjie met 'n uitsig oor die see (en die driehoekseil van 'n dau doer ver) stil te sit is pure plesier in Stone Town, Zanzibar. Skryf daai poskaart huis toe, lees nog 'n hoofstuk uit jou storieboek...Hierdie foto is by die Baboo Café geneem.

Dit is agtuur die oggend in die dakrestaurant van die Al Minar-hotel in Stone Town, Zanzibar. Ek is vier verdiepings hoog, en kyk uit oor ander dakke - op een sit 'n dikkop, roerloos. Uit 'n kraak in die muur van 'n ander gebou groei 'n boompie, en in dié sit 'n geelbek-troupant - dis 'n voël wat jy selde in Suid-Afrika sien, en gewoonlik net diep in die bos iewers. Maar hier sit hy nou, oop en bloot in 'n beboude gebied.

GLIMLAGTE. Sofia Ali poseer vir 'n foto op die veerboot tussen Dar es Salaam en Stone Town. Die vaart duur net minder as twee uur en kos in die omgewing van US$70 (R930) per retoerkaartjie.
GLIMLAGTE. Sofia Ali poseer vir 'n foto op die veerboot tussen Dar es Salaam en Stone Town. Die vaart duur net minder as twee uur en kos in die omgewing van US$70 (R930) per retoerkaartjie.

Ek beny voëls die vryheid wat hulle het om oor landsgrense te beweeg. Hulle het nie paspoorte en visums nodig nie. Maar ons vergeet ook soms hoe maklik ons in Suid-Afrika - deur net vinnig op 'n vliegtuig te spring - ander dele van Afrika kan bereik.

Stone Town is kosmopolitaans en die toerismebedryf lok handelaars van regoor Afrika. Matthew Joseph Lemamuree is 'n Maasai van Tanzanië wat aandenkings in Stone Town verkoop.
Stone Town is kosmopolitaans en die toerismebedryf lok handelaars van regoor Afrika. Matthew Joseph Lemamuree is 'n Maasai van Tanzanië wat aandenkings in Stone Town verkoop.

Stone Town is díg bebou, en voel soos 'n vestingstad uit ou Europa. Stone Town ís oud - eeue lank was dit een van die belangrikste handelspunte teen die ooskus van Afrika af, met handelaars wat van die Arabiese lande, Indië en selfs China hier aangedoen het. Dit het ook 'n somber geskiedenis: Zanzibar was lank deel van die slawehandel: Mense is hier aangehou, gekoop en verkoop, en op skepe na die vreemde gesit.

Wanneer jy by jou hotel uitstap, stap jy hierdie geskiedenis binne. Jy sien dit, vóél dit. Naby die hotel staan die huis van Tippu Tip. Hy het op sy dag Afrika van die ooskus af binnegestap, weswaarts tot in die Kongo om slawe te gaan haal. Hy het ook naam gemaak omdat hy by tye vir Livingstone en Stanley gehelp het met roetebeplanning tydens hulle voetreise.

KOM BINNE... Die winkelier Suleiman Salim Al-Harthy is in Zanzibar gebore, maar sy pa se familie kom van Oman in die Arabiese skiereiland.
KOM BINNE... Die winkelier Suleiman Salim Al-Harthy is in Zanzibar gebore, maar sy pa se familie kom van Oman in die Arabiese skiereiland.

Elders is die geboortehuis van Freddie Mercury - ja, dié voorsanger van die 80's-rockgroep Queen is 'n boorling van Stone Town.

Stone Town is vir die stapfikse toeris maklik om te verken. Gebruik die kaart in jou gidsboek, of koop een by 'n toeristewinkeltjie. ('n Handgetekende een deur Giovanni Tombazzi is net so mooi as wat dit nuttig is.)

Farida Salim staan in die deur van haar klerewinkel. Kunstig gekerfde deure en deurkosyne is van Stone Town se mooiste dinge om af te neem.
Farida Salim staan in die deur van haar klerewinkel. Kunstig gekerfde deure en deurkosyne is van Stone Town se mooiste dinge om af te neem.

Hoewel jy plek-plek ook moderne geboue sien - en natuurlik aandenkingswinkeltjies gemik op toeriste - voel dit asof die smal straatjies jou insluk en wegvoer na 'n ander tyd.

Jy gaan vir seker in dié geskiedkundinge gange verdwaal - maar op 'n goeie manier. Jy gaan 'n tikkie ánders daar uitstap...

Kleure en geure in Stone Town
Kleure en geure in Stone Town

Zanzibar se wit strande en lekker snorkelduikplekke lok baie toeriste, maar vir my is Stone Town genoeg ontsnapping.

Dit bied 'n ervaring wat jy glad nie in Suid-Afrika kan kry nie, en definitief ook nie in Europa nie. Die vasteland van Afrika (Tanzanië) is skaars 35 km wes van Zanzibar en wanneer jy die strate invaar, gaan jy dalk 'n Maasai ontmoet en miskien selfs 'n verloopte Nigeriër. Dis kosmopolitaans hier. Die invloed van die Arabiese lande is ewe duidelik, in die gesigte van die mense wat jy sien, die minarette van moskees.

Vandag is dit egter eers St. Joseph se Katolieke katedraal (met sy kenmerkende twéé kerktorings) wat my roep. Hierdie enorme katedraal is teen 1898 voltooi, maar word selde gebruik omdat hier min Katolieke deesdae is. Vir die toeris bied dit kalmte, want wanneer jy binnestap, val die geroesemoes van Stone Town skielik weg.

Ek sit 'n oomblik stil, verbeel myself die kerk vol mense, iemand op die preekstoel, gesange wat dreun. Dan staan ek op en stap uit, die onsigbare diens verby.

Natuurhistoriese museum
Natuurhistoriese museum

Ek haak vas by 'n groepie mans wat op 'n hoek sit en gesels naby hulle winkeltjies. Hulle wag vir klandisie, ek wag met my kamera teen die straat vir 'n foto om verby te kom.

Dan stap ek uit op Benjamin Mkapa-straat (oftewel Creek Road), waar die ou deel van Stone Town doodloop. Ek draai links en sit lank en kyk na hoe 'n ou man lemoene afskil. As jy my vra, is vars vrugtesap een van die lekkerste dinge omtrent Zanzibar. Die vrugtesap is gewoonlik 'n mengsel van lemoensap, grenadella, gemmer... oeg, ek raak lus as ek net daaraan dink!

Die straat en aanliggende mark is bedrywig. Minibusse en motorfietse kom en gaan, voetgangers verdring mekaar. Ek haal diep asem en glip die skare binne.

Dadelik probeer elke verkoper wat sy sout werd is, sy ware aan my verkoop. Dis in die haak met my: ek is duidelik 'n toeris. Die belangrikste ding is om nie haastig te wees of ongeduldig te raak nie. Dan raak só 'n markekspedisie 'n avontuur.

Die Ou Fort en House of Wonders
Die Ou Fort en House of Wonders

Ek snuister tussen die speserystalletjies deur met die lysie wat my skoonsuster uit Suid-Afrika aangestuur het: saffraan, vanieljepeule, kaneelstokkies, komyn, kerrie... Gou trek die geure my in, en ek ruik aan elke pakkie.

Jy kan seker al hierdie goed in jou buurt se mall ook koop, maar dis mos lekkerder om te sê dat hierdie hoenderkerrie gegeur is met 'n pakkie plesier wat jy in verre Zanzibar gekoop het, of hoe?

Nie als in die mark is lekker om te sien en ruik nie: Die vis- en hoenderafdeling moet jy liefs net besoek indien dit defintief iets is wat jy vanaand self wil gaarmaak.

Maar niks se geselfsorg vir my later nie: Sodra ek my vriende opgespoor het (almal het vandag hulle eie draaie geloop), gaan ons mekaar kry by Forodhani, die tuin en promenade teen die seekant van Stone Town.

Vrugteverkoper
Vrugteverkoper

Van laatmiddag af vergader dorpenaars en toeriste hier om te kyk hoe die son stadig - en statig - weste toe dooier. Vissermanne anker hulle bote, die driehoekseile van daus raak silhoeëtte teen die silwer glim van die see, en dan begin jy seekos ruik wanneer die opelugmark - als van seekat tot garnaal, en elke ding wat jy aan kan dink op 'n sosatiestokkie - begin sake doen.

Vir Stone Town wil ek weer sien: Ek wil hier verdwaal én tot verhaal kom

Hierdie artikel het oorspronklik in Weg#157 (Desember 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite engeite kon intussen verander het - laat weet gerus as jy so iets raaksien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM