My ma het elke week tot ounag met Huisgenoot se blokraai gesit. Toe ek in 2011 by Huisgenoot gewerk het, het ek halsoorkop ingestem om redakteur van hulle blokraaiboek te word. Ek is 'n boekwurm, en was binne sekondes verslaaf daaraan.
Nou stel ek meer as 'n duisend blokraaie per jaar op - vir Huisgenoot en YOU, Finweek, tvplus, Tuis en Home, en Weg Ry & Sleep - maar dis darem nie almal groot raaisels. Ek praat ook met 'n uitgewer oor my eerste eie blokraaiboek. Dalk in 2018. Julle moet asseblief almal die boekbekendstelling bywoon.
Die blokraai se raam word met 'n rekenaarprogram gepak, maar die leidrade word met die hand geskryf. Ek gebruik verskillende woordelyste vir die verskillende tydskrifte.
Ek vul ook self blokraaie in, maar meestal in Engels - bloot omdat dit my tweede taal is en blokraaie my help om my woordeskat te verbeter. Ek is minder lief vir sudoku's - as jy my wiskundepunte op skool gesien het, sal jy verstaan.
Blokraaie is verstommend gewild. Ek kry briewe van tuisteskeppers, professionele mense, studente en tieners. Bejaardes. Jonges. Rykes. Mense wat sente afknyp. Snobs. Plat-op-die-aarde-mense. Dis net 'n lekker manier om te ontspan. Hier én oorsee.
In New York trek duskant 'n duisend mense elke jaar laer in 'n hotel sodat hulle aan The New York Times se naweek lange blokraaitoernooi kan deelneem. Ek het een jaar soontoe gereis om dit te beleef. Dis asof jy in die haasgat in Alice in Wonderland afgeval het. Die een vrou het die hele naweek in 'n stel flennie-blokraaipajamas rondgeloop. Niemand het 'n oog daaroor geknip nie. (Ek het kort daarna my eie stel oor die internet aangeskaf.)
In Duitsland staan die blokraaitydskrifte heeltemal op 'n aparte rak - hulle het honderde verskillende blokraaititels. In die een tydskrif kan jy nét kruideniersware as pryse wen, in 'n ander een net kombuistoestelle. Die een rak blokraaiboeke op die ander. Dis die hemel.
In Griekeland word die een blokraaititel elke maand met 'n guitige kaalborsmodel op die voorblad verkoop. Met sterretjies wat strategies geplaas is. Ek kon ook nie lekker die kloutjie by die oor kry nie.
Lank nadat die selfoon vervang is deur 'n katoeter wat iewers op jou ken ingeplant word en ons almal in hommeltuie kantoor toe aangesweef kom, sal mense steeds 'n blokraaitydskrif oopslaan en 'n potlood nadertrek.
Ek hoop dis een wat ek opgestel het.
Wegraai #2 is van 4 Desember af op die rakke teen R45, of bestel een by *winkel.weg.co.za













