Dis iets heeltemal anders as tafelsout. Dis ’n suiwer minerale verbinding gemaak van magnesium en sulfaat, en baie van die voordele wat dit het, word aan die magnesium toegeskryf.
Dis bekostigbaar en maklik om te gebruik, en as jy dit op die regte manier aanwend, onskadelik. Maar omdat dit ’n sterk lakseermiddel is, moet jy dit eerder nie inwendig inneem sonder ’n dokter se aanbeveling nie.
Hier is ’n paar slim wenke hoe om dit in te span.
Gesondheid
In die bad: Die magnesium in Engelse sout verlig pyn en ontsteking, seer spiere, asma en hoofpyn. Gebruik dit só: Gooi twee koppies Engelse sout in ’n bad warm water en week jou seer lyf 15 minute daarin. Warm water kan jou bloeddruk tydelik verlaag, so as jy reeds lae bloeddruk het, vra eers jou dokter daaroor.
Verwyder splinters: Splinters is ’n alledaagse kopseer, veral as daar kinders tuis is wat bome klim en kaalvoet buite rondhardloop.
Gebruik dit só: Meng ’n koppie Engelse sout met ’n koppie warm water. Week die area met die splinter minstens 10 minute daarin, en verwyder dan die splinter met ’n naald of ’n haartangetjie.
Raak ontslae van voetreuke: ’n Epsom-voetbad is ’n goeie manier om van ’n onaangename voetreuk ontslae te raak.
Gebruik dit só: Vul ’n bad met genoeg warm water om jou voete tot by die enkels te bedek. Gooi ’n halwe koppie Engelse sout in en week jou voete 10 minute daarin. Moet dit nie elke aand doen nie, Engelse sout kan jou voete uitdroog.
Skoonheid
Reinig jou lyf: Vuilheid en bakterieë verstop porieë in die vel. Engelse sout kan help om swartkoppies te keer en ’n gesonde vel te verkry.
Gebruik dit só: Gooi dit in jou badwater, of meng dit met bad of olyfolie, en vryf dit oor jou vel. Jy kan ook ’n halwe teelepel Engelse sout by jou gesigwas gooi.
Maak net seker jy spoel dit deeglik af. Vir swartkoppies kan jy ’n teelepel Engelse sout meng met drie druppels jodium in ’n koppie kookwater. Wend dit op die swartkoppies aan met ’n katoenlappie. Spoel dit ná ’n paar minute met louwarm water af.
Gee jou hare volume: Die hoë magnesium-inhoud van Engelse sout kan help om jou hare te versterk en meer volume te gee.
Gebruik dit só: Meng gelyke dele opknapper en Engelse sout en vryf dit in jou hare nadat jy dit met sjampoe gewas het. Los dit vir 20 minute en spoel dan deeglik af.
Huis en tuin
Teëls: Maak jou teëls daarmee skoon.
Gebruik dit só: Meng gelyke dele Engelse sout en opwasmiddel en skrop jou kombuis en badkamerteëls daarmee. Vee dit deeglik skoon.
Kweek groente: Die magnesium en sulfaat in Engelse sout help plante gesond bly.
Gebruik dit só: Vir potplante kan jy 2 eetlepels Engelse sout in 8 liter water oplos, en die plante een keer per maand daarmee natmaak. Vir plante in jou tuin kan jy Engelse sout in die grond inwerk, of ’n gieter vul met een eetlepel Engelse sout vir elke liter water, en die plante natgooi. Doen dit een keer per maand.
1630






