Die huidige loketrevolusie is danksy doodgewone talente wat soomloos oor die Hollywood-drumpel glip, skryf Leon van Nierop.
In sy 1992-boek The Best of the Superstars verduidelik John Patrick wat 'n superster benodig. "Waar hulle ook al heengaan, hulle moet die middelpunt van belangstelling wees." Maar slegs enkeles wat hy destyds uitgelig het, het daardie toets deurstaan, want sommige het in die vergetelheid verdwyn.
So het Mark Wahlberg, Jason Patric en Rupert Everett reeds voetnotas geword. Slegs enkeles soos Keanu Reeves en Brad Pitt dwing nog respek af. Maar gedurende sy egskeiding het Pitt, veral na die benarde Bullet Train, grootliks van die radar af verdwyn. Miskien herstel die opkomende F1 sy naam. Selfs Kevin Costner sukkel om befondsing te kry om sy teleurstellende Wilde Weste-epos An American Saga verder te ontwikkel.
Beteken dit dat die dae van supersterre verby is? Nie sommer nie, veral nie ná die sukses wat beslis op Deadpool & Wolverine se Ryan Reynolds en Hugh Jackman wag nie. Maar Reynolds waarsku: "Dit het my 18 jaar geneem om oornag 'n ster te word."
Tom Cruise is een van die min wat steeds koning kraai, maar uit sy Top Gun: Maverick is die supersensasie Glen Powell gebore wat tans as 'n Hollywood-komeet gesien word. Ná Anyone but You, Hit Man en Twisters is hy 'n toonaangewende talent-tornado sonder egoïstiese bagasie. Maar omdat hy so doodgewoon voorkom, aanvaar ons sy sjarme as vanselfsprekend, nie bedreigend nie.
Zac Efron was eers die fraai outjie van Hairspray en High School Musical, maar toe herontwerp hy homself vir die teleurstellende The Iron Claw waarin hy 'n macho-bokser gespeel het. En toe A Family Affair teenoor Nicole Kidman waarin dit gelyk het so of sy gesig met 'n beitel bygekom is asof hy teen sy aantreklike superstervoorkoms gerebelleer het! Kidman is terloops een van die min gevestigdes wat ook haar loketkrag behou het, maar Efron se "nuwe" gesig het almal onverhoeds betrap.
Jennifer Lopez, wie se diva-eise berug is, asook haar stormagtige aan-en-af-huwelik met nog 'n tanende ster, Ben Affleck, verloor nou haar glans. Mooi bene is nie meer genoeg nie!
Verskietende sterre los gapings vir nuwe talent
Dié verskietende sterre en akteurs wat agter kleefstywe superheldpakkies wegkruip soos Wolverine en Deadpool, veroorsaak gapings waardeur nuwe talente glip. Akteurs wat taai rolle moeiteloos speel al is hulle karakters wreed soos Bill Skarsgård s'n. Met sy sjarmante vertolking van 'n bankrower in Clark en 'n geweldenaar in Boy Kills World het hy psigopate op so 'n gemaklike galop vertolk, dat hy nie weersin gewek het nie, maar fassinering.
All of Us Strangers het vir Paul Mescal en Andrew Scott opnuut in die kollig geplaas. Hulle soepel vertolkings en ongedwonge karakteriserings het donker karakters nuwe dimensie gegee. Veral Mescal is verfrissend onselfbewus, veral in die getemperde Normal People en Aftersun.

Anya Taylor-Joy se Furiosa: A Mad Max Saga het ongelukkig misluk, maar in The Menu en Last Night in Soho oorheers sy elke toneel. Hier is 'n wonderwerk-meisiekind wat blink vonke in Hollywood afskiet met haar vreeslose, genuanseerde en oorspronklike vertolkings.
Dan is daar Teo Yoo en Greta Lee in Past Lives wat in 'n lang, passiewe toneel waarin hulle vir 'n huurmotor wag, bewys het dat blomryke belydenisse nie nodig is om liefde te laat gloei nie. Net betekenisvolle blikke vol menswees.
Een van die min moderne popmooies wat verby sy voorkoms beweeg, is Nicholas Galitzine in Mary & George, asook die relatiewe nuweling Taylor Zakhar Perez. Hier is twee heteroseksuele akteurs wat die skerm onbevrees laat sidder het in die gay rolprent Red, White and Royal Blue. Galitzine se uittrekkery, ook in ander films, was so eksplisiet dat hy op die internet om verskoning moes vra oor sy onbeskaamde kaalbaskaskenades! Maar hy kan nugter en sonder selfvoldaanheid speel. Dink ook aan Jacob Elordi en Barry Keoghan wie se elektrisiteit in Saltburn beurtkrag veroorsaak het. Hulle skakel in by 'n nuwe gesaghebbende nugter akteursbeeld wat sedert 2022 deur die bedryf vloei.
Akteurs bars deur die glinstergordyn
Daar is nog manne wat soos magnete funksioneer soos Jeremy Allen White (The Bear), Cosmo Jarvis in Shogun en Callum Turner in The Boys in the Boat - gesoute akteurs wat nou eers kans kry om deur die glinstergordyn te bars wat Leonardo DiCaprio lank gelede toegetrek het.
Van Leo gepraat. Lily Gladstone het na Killers of the Flower Moon 'n stil revolusie veroorsaak met haar gesaghebbende en deurleefde spel. So ook Maika Monroe wat in Longlegs selfs die aandag van Nicolas Cage in sy monsteragtige grimering afgetrek het.
Josh O'Connor as die gemaklike, sexy tennisspeler in Challengers het 'n tennisbal gesellig gemoker sodat selfs Zendaya verlei is. Sy is darem al as "nuwe" bekende gevestig. So ook haar Dune Part 11-maat Timothée Chalamet. Hierdie vars talente is die voorlopers van 'n new wave-beweging en het selfs die spesiale effekte onder die sand gespeel. Hulle hanteer hul supersterstatus boonop met gemak.
Channing Tatum se kaak was net te strak in Fly Me to the Moon waarin selfs Scarlett Johansson niemand kon lok nie, wat die vermoede bevestig dat indien sulke supersterre doodgewone rolle speel, gehore hulle oninteressant vind.
Dit lyk nie of die nuwerwetse akteurs hulle deur roem laat oorweldig nie. Hulle behandel bewonderaars moeiteloos en is nooit oorbewus van status nie. Dis die paspoort tot die meeste se sukses as hulle gemaklik van vermoeiende onderhoude na supersterverskynings na waaghalsige films beweeg.
Beteken dit dat die dae van supersterre verby is?
Nie sommer nie, veral nie ná die sukses wat beslis op Deadpool & Wolverine se Ryan Reynolds en Hugh Jackman wag nie. Maar Reynolds waarsku: "Dit het my 18 jaar geneem om oornag 'n ster te word."










