Styl

Die beste estetiese behandelings ná menopouse

FOTO: Unsplash
FOTO: Unsplash

Hoe hou jy jou vel mooi en glad in jou "warm" jare en daarna? Menopouse is nie altyd die maklikste fase in 'n vrou se lewe nie. Buiten die magdom simptome wil jy jou nie ook nog bekommer oor jou vel en gesig wat skielik minder ferm en ongesond lyk nie. Hiér is raad oor die beste estetiese behandelings.

Die eerste teken daarvan is nie, soos jy sou dink, plooie nie, maar wel 'n verlies aan volume.

Hormonale veranderings in jou middeljare het 'n sigbare effek op jou voorkoms. Die eerste teken daarvan is nie, soos jy sou dink, plooie nie, maar wel 'n verlies aan volume. In die eerste vyf jaar ná menopouse verloor jy 30% van jou kollageen (die vesel wat jou vel struktuur gee), volgens Your Hormone Doctor. Die vervaardiging van elastien, wat jou vel veerkrag gee en laat "terugbons", neem ook af. Jou vel verloor dus vog, struktuur, digtheid en fermheid.

Jou gesig word hol rondom jou oë en slape, asook by jou wange. Dis omdat die vetkussings in jou gesig verskuif weens 'n verlies aan volume en ook omdat die skelet krimp (jou skedel dus ook). Die resultaat is daardie bulhond-hangwange (jowls) en 'n verslapte kakebeenlyn en dubbelken. Ná 40 kan die verlies van net 5 kg gewig jou aansienlik ouer en 'n bietjie ekstra vetjies jou jonger laat lyk - vet is 'n natuurlike vuller.

Daar is gelukkig 'n groot verskeidendheid behandelings by estetiese dokters en salonne beskikbaar om die sigbare tekens van veroudering ná menopouse in 'n mate hok te slaan - en selfs die horlosie 'n bietjie terug te draai.

Probeer dié estetiese behandelings:

Vir lyne en plooie en verrimpelde vel:

Probeer die sogenaamde "liquid facelift" met behulp van Botox en vullers of Fraxel-laser.

Vir pigmentasie:

Gaan vir 'n diepafskilferingsbehandeling (peel) in verskillende sterktes wat wissel van oppervlakkig (met ensieme en vrugtesure soos alfahidroksisure) tot diep en drasties, soos die IPL-behandeling (Intense Pulse Light).

Vir 'n gladde veltekstuur:

Verbeter jou veltekstuur met afskilferingsbehandelings en mesoterapie. Dit helder die vel op en stimuleer nuwe selvorming wat jou vel vars en gloeiend laat lyk.

Vir verslapte vel:

Hitte- of ultrasoniese klankbehandelings wat tot diep in die vel dring en die vorming van nuwe kollageen stimuleer, verbeter verslapte vel. Probeer Thermage, Ulthera, radiofrekwensie-behandeling (RF) of Exilis Elite.

Vir verlies aan volume:

Driedimensionele verjonging met vullers soos Restylane, Juvederm of Emervel in kombinasie met 'n behandeling wat die dieper vellae verhit, om kollageenvorming en hernude elastisiteit aan te moedig, werk goed. Probeer die BTL Exilis Elite akoestiesegolf-terapie of Fraxel-laser.

Onthou!

Doen jou huiswerk, maak seker die dokter of terapeut is ervare en gebruik die beste toerusting en soort inspuiting. Lees op die internet alles wat jy kan oor die prosedure wat jy oorweeg. Die meeste goeie estetiese dokters en klinieke het webtuistes. Kyk vooraf na voorbeelde van die dokter of terapeut se werk. En: As dit te goedkoop klink om waar te wees, dan is dit. Bly weg.

* Elsa Krüger is 'n skoonheidsjoernalis en stigter van die blog Mooipraatjies.

Monica Pienaar

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM