Styl

Die super-velsorgproduk wat vir álles help

Die skoonheidswêreld kan nie uitgepraat raak oor retinol se magdom voordele vir jou vel nie, en tog is baie van ons nog skrikkerig om dié superproduk te gebruik. Moenie wees nie! Dis een van die bestanddele waaroor al die meeste navorsing gedoen is en dit word al dekades lank ontwikkel en verbeter. Boonop is daar nou ál meer bekostigbare retinolprodukte beskikbaar.

Wat is retinol?

Dié kragtige bestanddeel is 'n vorm van vitamien A en het die vermoë om die tempo te versnel waarteen velselle vernuwe word, sodat jou vel stralender en jeugdiger lyk. Só behandel dit alles van fyn lyntjies en plooie tot donker vlekke, aknee, droogheid en selfs 'n sensitiewe vel.

Hoe gebruik jy dit?

Die meeste retinolprodukte is in die vorm van 'n serum of room te kry. Jy kan dit bloot by jou bestaande velsorgroetine voeg en in die aand aanwend nadat jy jou vel gereinig het.

Maar gaan dit nie my vel sensitief maak nie?

Omdat dit 'n baie aktiewe bestanddeel is, kan jou vel in die begin effens rooi en droog wees en selfs sigbaar 'n bietjie afskilfer. Moenie dat dit jou afskrik nie. Gebruik die produk eers net so een of twee keer per week saans totdat jou vel gewoond is daaraan en gebruik dit dan geleidelik meer. Jou vel pas binne omtrent twee weke aan. Om die droogheid teen te werk kan jy in hierdie tyd 'n ryker vogroom en bevogtigende masker oorweeg.

Só help retinol vir byna enige velkwessie:

#1 Vir fyn lyntjies en plooie

Retinol het die vermoë om kollageen te stimuleer en die tempo waarteen jou velselle vernuwe te bespoedig sodat jou vel plomper en fermer lyk.

Probeer: Neutrogena Ageless Intensives Anti-Wrinkle Deep Wrinkle Serum (R195)

#2 Vir 'n gedehidreerde en droë vel

Dit normaliseer jou vel se natuurlike bevogtigingstelsel sodat jou vel homself beter kan hidreer. Omdat retinol geneig is om jou vel droog te laat voel kan jy 'n ryk vogroom ná jou retinol aanwend om dié droë gevoel teen te werk.

Probeer: Environ Original Debut Face Moisturiser (R320)

#3 Vir pigmentasie

Retinol skilfer die boonste deel van jou vel af en help so om oor tyd donker vlekke en pigmentasie ligter te maak. Onthou om steeds altyd deur die dag 'n goeie sonskerm op jou gesig te dra om die vorming van nuwe vlekke te voorkom.

Probeer: NeoStrata Enlighten Pigment Controller (R842). By uitsoeksalonne en aanlyn by www.dermastore.co.za en www.skinmiles.com

#4 Vir volwasse-aknee

Omdat retinol jou vel afskilfer, verwyder dit ook dooie velselletjies en onsuiwerhede vanuit jou porieë. Dit help ook om jou porieë kleiner te laat lyk.

Probeer: Dermalogica Overnight Retinol Repair 1% (R1 695). By uitsoeksalonne

#5 Vir 'n sensitiewe vel

Retinol kan selfs op 'n sensitiewe vel gebruik word. As jou vel geneig is om maklik geïrriteerd en rooi te wees, kies eerder 'n retinol room as serum en gebruik dit net so drie keer 'n week.

Probeer: Eucerin Sensitive Skin Q10 Active Night Cream (R261)

Monica Pienaar

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM