Styl

Jennifer se grootste skoonheidsfout

Die meeste van ons het al iets aan ons hare, gesig of lyf gedoen waaroor ons later effens (of baie!) spyt was. Daai keer toe jy jou eie kuif probeer knip het, of die vreemde grimeerkeuses van jou studentejare waaroor jy nou nog sidder … Die Hollywood-aktrise Jennifer Aniston het onlangs háár grootste skoonheidsfout verklap aan die Australiese leefstylwebblad Now To Love. En nee, dis nie haar ikoniese Friends-haarstyl "The Rachel" nie.

"My grootste skoonheidsfout is die hoeveelheid tyd wat ek in die son gelê het sonder sonskerm aan," het Jennifer gebieg. "Ek meen, baba-olie! Wat het my besiel?!" Jennifer vertel sy is mal oor die son en 'n sonbruin gelaat. Maar sy het die les geleer dat dit beter is om jou vel te beskerm omdat dit later in jou lewe 'n groot invloed op die gesondheid van jou vel het, skryf Now To Love.

Wyse woorde, Jen! Een van die belangrikste stappe wat jy kan doen om jou vel jonk en gesond te hou is om sonslim te wees. Selfs net 'n paar minute se sonblootstelling per dag bou oor jare op. Dikwels kan jy die tekens van sonveroudering reeds in jou 20's begin sien soos wat donker vlekke op jou gesig en lyf meer sigbaar word en fyn lyntjies rondom jou oë prominent word.

Hoe gemaak dan?

Dis moeilik om mense te oorreed om daagliks sonskerm te gebruik. Daarom beveel dr. Dagmar Whitaker, 'n dermatoloog van Kaapstad en voorsitter van die Suid-Afrikaanse melanoom-adviesraad, aan dat Suid-Afrikaners daagliks 'n sonskerm met 'n SBF van 50 op ons gesig, nek, bors en hande aanwend. "'n Sonskerm met 'n SBF van 50 bied die langste beskerming vir die minste moeite omdat jy dit minder gereeld hoef aan te wend," het sy by 'n mediageleentheid gesê.

Gelukkig hoef mens ook nie meer ure in die son te lê om bruin te word nie. Met selfverbruiningsprodukte en 'n bietjie verbronser kan jy binne minute 'n sonbruin voorkoms tuis skep. Lees hiér hoe.

http://www.sarie.com/skoonheid/het-jy-gehoor-skoonheid/gee-jou-vel-n-songebrande-voorkoms/

Probeer dié produkte:

1. Cetaphil Daylong SPF 50+ Liposomal Lotion Face and Body (R229)

Dié ligte sonskerm bied hoë beskerming sonder om jou vel vetterig te laat voel.

2. BioNike Defence Sun 50+ Tinted Sun Cream Natural (R150)

Jou vel word liggies bedek met dié getinte sonskerm. By Dis-Chem

3. Caribbean Tan Self Tan Tan In A Can (R100)

Die formule gee 'n natuurlike sonbruin kleur aan jou lyf. By Dis-Chem, Takealot en Clicks

4. Justine Luxe Lavish Powder Bronzer (R225)

Skakeer die verbronser in op die dele van jou gesig wat die son gewoonlik kleur vir 'n mooi songlans. Skakel 0860 102 345

5. Benefit Hoola Zero Tanlines (R475)

As jy jou lyf vir net 'n dag 'n sonbruin glans wil gee, probeer dié lyfverbronser. By uitsoektakke van Edgars en Red Square

Bronne:www.nowtolove.com.au, www.allure.com

Monica Pienaar

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM