Op 62 het die matriarg van die Kardashian-Jenner-familie, Kris Jenner, besluit dis tyd vir 'n verandering. Sy het haar hare, soos haar dogters Kim Kardashian en Khloë Kardashian, blond gekleur.
"Ek hou van 'n blonde Kris Jenner," het Kim op Instagram geskryf. Sy het 'n foto van haar ma op sosiale media gedeel.

Vir 'n oomblik het Kris, met haar blonde lokke, soos Kim Kardashian gelyk. Die appel val immers nie ver van die boom af nie.
Platinumblonde hare was een van die gewildste haar-trends in 2017, danksy 'n hele rits bekendes wat verlede jaar hul hare die waaghalsige blond gekleur het. Almal van Kim Kardashian tot Kylie Jenner, Katy Perry tot Kirsten Stewart, Kate Hudson en Cara Delevingne het in 2017 al daarmee geëksperimenteer.
Maar wees versigtig, dit is nie 'n haarkleur wat noodwendig by almal pas nie. 'n Meer romerige platinumblond met effense wit en goue skakerings tussenin is daarom 'n goeie alternatief vir blondines dié somer. Dis nuut en jeugdig en pas boonop by die meeste velkleure.
Voel jy ook lus om jou hare platinumblond te kleur?
Hier's 6 dinge wat jy móét weet:
* Platinumblond is gewaagd en pas die beste by 'n ligte gelaatskleur met 'n koel of pienk ondertoon. Op 'n donkerder gelaat kan dit maklik vaal en uitgewas vertoon en jou ouer laat lyk.
* Hoe donkerder jou hare, hoe meer kleursessies (tot drie salonbesoeke) neem dit om die platinumblonde kleur te kry. Jou hare moet eers geleidelik ligter gebleik word voordat die stilis dit uiteindelik platinumblond kan kleur.
* Tydens die bleikproses word die haarkutikel (die omhulsel om die haarskag) beskadig, wat veroorsaak dat vog makliker uit jou hare ontsnap. Wanneer jy jou hare was, gebruik 'n bevogtigende sjampoe en opknapper om die vog terug te sit.
* Platinumblonde hare kan ná 'n ruk geel begin lyk, veral as jy gereeld in die son kom. Gebruik af en toe 'n sjampoe en opknapper (soos 'n silwer of pers sjampoe) wat geelheid teenwerk. Wees ook op die uitkyk vir stileringsprodukte wat jou hare teen UV-strale beskerm.
* Platinumblonde hare lyk veral mooi op 'n douvars gelaat. Wend 'n pienkerige blosser op jou wange aan om jou gesig lewe te gee. En hou jou ooggrimering meer subtiel.
* Kies helderder kleure vir jou lippe, soos rooi, pienk of koraal. Dis die maklikste manier om jou voorkoms op te helder en skep 'n fokuspunt op jou gesig. As jy jonger is en jou gelaat bloesend, kan jy speel met neutrale lipskakerings.













