
Velsoort: Droë vel
Dié velsoort is uiters sensitief en geneig tot puisies, ekseem, plooie en rooiheid.
Probleem
Die vel reageer sleg op uiterste weerstoestande. Grimering kan ook 'n laag vorm omdat dit nie goed met die vel saamsmelt nie. Kies produkte wat hialuronsuur en vitamien A en E bevat.
Boereraat
Jogurtmasker: Meng twee eetlepels jogurt, een eetlepel heuning en een eetlepel amandelolie.
Wend aan jou gesig. Spoel ná 15 minute met warm water af, druk droog en bevog.
Wenk
Halveer jou tyd in die stort; die stoom en warm water stroop die vel van sy vog.
Velsoort: Olierige vel
Hierdie soort vel is geneig om te blink weens die olievervaardiging en kan ook geneig wees tot aknee.
Probleem
In warm temperature, soos in 'n oorverhitte vertrek of as jy te lank voor die kaggel sit, raak dit veral baie olierig. Selfs oogskadu gaan lê in die voutjies en onderlaag bly nie aan nie. Kies produkte wat salisielsuur en glikolsuur bevat.
Boereraat
Eierwitmasker: Skei die eier en plaas die eierwit in 'n koppie of klein bakkie. Wend die eier oor die hele gesig aan. Hou 15 minute aan. Spoel met warm water af, druk die vel droog en bevog.
Wenk
Gebruik produkte in jel- en serumvorm; dis nie so swaar nie en hierdie soort vel absorbeer dit beter.
Velsoort: Kombinasievel
Jou T-sone is olierig en die ander dele is droog. Dié velsoort is geneig tot swartkoppies en puisies.
Probleem
Dis moeilik om vogprodukte te kry wat voorsiening maak vir dié kombinasievel. Kies produkte met hialuron-, glikol- en salisielsuur.
Boereraat
Piesangmasker: Druk 'n ryp piesang fyn tot dit 'n pasta vorm en wend aan die gesig. Los 10 minute aan. Spoel met warm water af, druk die vel droog en bevog.
Wenk
Kies serums; dit word goed geabsorbeer en sorg vir egalige aanwending.
Velsoort: Onegalige gelaat
Die T-sone is ligter en die buitelyn van die gesig donkerder.
Probleem
Mense met dié velsoort sukkel om die regte onderlaag te vind omdat hulle gewoonlik twee kleure in ag moet neem. Kies produkte wat vitamien A en alfahidroksisuur bevat.
Boereraat
Suurlemoen-en-heuning-masker: Meng twee teelepels vars suurlemoensap met een teelepel heuning. Wend aan en los 10 minute. Spoel met warm water af, druk droog en bevog.
Wenk
Gebruik gesigwasmiddels wat geleidelik ontslae raak van merke sonder om jou natuurlike velkleur ligter te maak.
Velsoort: Vlekke
Dié velsoort het deurgeloop onder die son en het ouderdomsvlekke en akneelittekens.
Probleem
Mense met vlekke op hul vel gebruik gewoonlik meer onderlaag om die foutjies te verbloem. Kies produkte wat vitamien A en C en alfahidroksisuur bevat.
Boereraat
Groenteemasker: Vee 'n afgekoelde, gebruikte groenteesakkie sagkens oor jou gesig. Los ongeveer 30 minute aan en spoel met warm water af.
Wenk
Druk die vel droog en bevog. Los jou puisies - hoe meer jy daaraan druk, hoe erger gaan die littekens wees.
Ekstra bronne: Cosmopolitan.com, Paulaschoice.com, Refinery29.com
Teken in op ons nuusbriewe
Kry die dag se sterkste stories, die week selekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake enhartsake. Teken nou in!












