Die diagnosering van borskanker word deur 'n multidissiplinêre span gedoen. Dr. Justus Apffelstaedt, spesialis-chirurg en kenner van bors-, skildklier- en byskildkliergesondheid, sowel as chirurgiese onkologie op die sagte weefsel, gee meer insig oor borskankerdiagnosering.
Wat presies word bedoel as kenners sê borsgesondheid is meer as net mammografie?
"Borsgesondheidbewustheid moet begin sodra jong meisies borste begin ontwikkel. Vroue tussen 20 en 39 jaar oud moet weet of daar 'n geskiedenis van kanker in die familie is en moet maandeliks self hul borste ondersoek. Vroue ouer as 40 moet hulself vergewis van enige vooruitgang in borsgesondheid en voortgaan met maandelikse selfondersoeke.
"Bykomend, moet vroue bo 40 'n jaarlikse borsgesondheidskonsultasie ondergaan, insluitend 'n volledige borsgesondheidgeskiedenis, liggaamlike ondersoek, mammogram en bors-ultraklank. As 'n vrou in die lae-risiko-groep val (geen familiegeskiedenis van kanker nie), kan vier leefstylkeuses haar kanse om borskanker te ontwikkel, drasties verminder. Dit is: handhaaf 'n gesonde liggaamsgewig, doen gereeld oefening, beperk alkoholinname en neem die risiko's in ag as jy hormoonvervangingsterapie oorweeg.
"Wanneer daar 'n familiegeskiedenis van enige vorm van kanker is, word genetiese toetsing aanbeveel om die risiko vir borskanker beter te verstaan. Nie-kwaadaardige toestande soos knoppe, mastalgie (borspyn) en so meer, val ook in die borsgesondheidskategorie. Die meeste nie-kwaadaardige toestande dui nie op 'n groter risiko vir borskanker nie. Deur na jou borsgesondheid om te sien, kan jy jou eie lewe red, want vroeë opsporing beteken die kanker kan vinniger behandel word!"
Indien moontlike kanker ontdek word, wat gebeur verder?
"Die diagnose sal bevestig word met 'n naaldbiopsie onder plaaslike verdowing en indien nodig met behulp van beelding (mammografie of ultraklank).
"Die doeltreffendste manier om borskanker te behandel, is deur 'n multidissiplinêre benadering wat verskeie behandelings soos chirurgie, bestraling, chemoterapie, hormoon- en biologiese middels kombineer en integreer. Die beste resultate word gelewer deur spesialisklinieke waar meer as 150 borskankergevalle per jaar gesien word, omdat die mees akkurate diagnose en die mees geskikte opsies vir behandeling hier gekies word.
" 'n Multidissiplinêre behandelingsbenadering verg die dienste van 'n onkologiese chirurg, 'n stralingsonkoloog, 'n mediese onkoloog en plastiese chirurg wat die tydraamwerk en volgorde van die individuele behandelings optimaal moet beplan.
"In 'n goed bestuurde multidissiplinêre borskliniek sal 50 uit elke 100 vroue met borskanker borsbehoudende chirurgie ontvang, 45 sal 'n mastektomie met onmiddellike rekonstruksie ondergaan, en slegs vyf sal die teater sonder hul eie of 'n heropgeboude bors verlaat."
Wat as 'n vrou jonk en besorgd is oor haar vrugbaarheid?
"Terwyl borskanker as sulks geen uitwerking op vrugbaarheid het waarvan ons weet nie, kan die behandeling daarvan groot implikasies inhou. Gelukkig ontstaan borskanker meer algemeen in vroue wat reeds hul gesin voltooi het.
"Vir dié wat nog kinders wil hê, hou elke behandeling sy eie gevare in. Bestraling kan nie gedurende enige fase van swangerskap toegedien word nie, maar is andersins veilig. Chemoterapie is veilig in die tweede en derde trimester van swangerskap, maar verlaag vrugbaarheid oor die lang termyn.
"Hormoonterapie is nie geskik vir swanger vroue nie. Vroue wat dié soort behandeling ontvang, moet swangerskap vermy, maar hul vrugbaarheidsvlak sal ná behandeling na normaal terugkeer.
"Chirurgie gedurende swangerskap kan tot 'n spontane miskraam lei, maar het geen uitwerking op vrugbaarheid nie. Die betrokke kwessies is baie kompleks en 'n balans moet gevind word tussen behandelingsbehoeftes om oorlewing te verseker en die individu se behoefte om swanger te raak. Vanselfsprekend verg dit 'n ervare behandelingspan.
"As swangerskap per ongeluk gebeur terwyl 'n vrou aktief behandeling ontvang, beveel ons 'n terapeutiese aborsie aan. Ons stel voor die pasiënt word ingelig oor die uitwerking van behandeling op haar vrugbaarheid voordat sy daarmee begin, want dit is belangrik om die risiko's te verstaan. Verder moet die pasiënt ook ingelig word oor vrugbaarheidbestuursopsies soos die vries van eiers of embrio's."
Mans kry dit ook! Moet hulle ook vir borsondersoeke gaan?
"Vir elke 100 vroue wat vir borskanker behandel word, word daar een man behandel. Die risiko is dus laag, veral in vergelyking met kanker in die longe, prostaat of kolon.
"Volgens die Nasionale Kankerregister is die kans dat 'n man in sy leeftyd borskanker ontwikkel, tussen een uit 500 en een uit 1 000, na gelang van ras. Mans kan op enige ouderdom borskanker ontwikkel, maar dit word gewoonlik gesien in individue tussen 60 en 80 jaar oud (vergeleke met vroue waar dit gewoonlik vanaf 35-jarige ouderdom opgespoor word).
"Daar word geraam dat genetiese afwykings wat kanker veroorsaak, ten minste twee tot vier keer meer algemeen in mans met borskanker voorkom as by vroue. Die diagnose van sulke genetiese mutasies het 'n groot impak op die behandeling van die pasiënt en hou ook gevolge vir ander familielede in. Genetiese toetsing is daarom deesdae deel van die roetinesorg van mans wat met borskanker gediagnoseer word.
"Mans met borskanker voel gewoonlik 'n knop. Mans se borste is nie so groot soos vroue s'n nie en dit is dus makliker om kankergroeisels te voel.
"In teenstelling met vroue, gaan klop mans egter nie so maklik by dokters aan vir mediese hulp nie, en in die meeste gevalle is die kankers wat ons sien, dikwels al ver gevorderd.
"Ons beklemtoon dus en raai aan dat mans met 'n sterk familiegeskiedenis van borskanker, genetiese raadgewing ontvang om die risiko's beter te verstaan en daarvolgens geskikte siftingstoetse te laat doen."
GEBORG
Apffelstaedt, Hoosain & Associates
Borsgesondheid is soveel meer as net mammografie. Dit behels die holistiese sorg watApffelstaedt, Hoosain & Associates bied aan 'n persoon wat bekommerd is oor enige borsgesondheidkwessie of borskankerdiagnose. Hul toegewyde en hoogs gekwalifiseerde, multidissiplinêre span is hier om jou te help om alle aspekte van borsgesondheid proaktief te bestuur, asook om jou kundig deur die diagnose en gepaste behandeling te lei. Skakel hulle vandag nog by 021 930 2662 of klik hierom 'n afspraak aanlyn te maak
















