Volwassenes wat hul gesondheid in ag neem, maak seker hulle neem elke dag 'n verskeidenheid kossoorte in, insluitend vyf porsies vrugte en groente.
Nou moedig gesondheidskenners volwassenes aan om elke dag ook baie te glimlag, aangesien dié beweging van die gesigspiere ook voordele vir jou gesondheid inhou.
In 'n studie deur die skoene-en-bykomstighede-handelsmerk Moshulu is bevind dat volwassenes in Brittanje gemiddeld 11 keer per dag glimlag, dus 232 000 keer in hul leeftyd. Maar die mense het gereken sewe keer per dag is genoeg om 'n positiewe uitwerking te hê op hul gevoel van geluk en tevredenheid.
"Ons het almal al gehoor van die ‘vyf per dag'-reël vir vrugte en groente, maar die belangrikheid van ‘sewe per dag' wat glimlag betref, is net so 'n werklikheid. Die voordele vir positiewe geestesgesondheid is yslik," het dr. Jessamy Hibberd, 'n sielkundige, verduidelik.
" 'n Glimlag is baie waardevol en dit word deur meer as 90% van ons erken. As jy die kere wat jy elke dag glimlag kon bymekaartel, kan dit groot voordele inhou vir jou algehele welsyn.
Sonskyn laat ons die meeste glimlag, maar afslag by die kasregister doen dit ook ...
"Hoewel ons dikwels onbewustelik glimlag, behoort ons dit as 'n belangrike deel van ons dag te beskou."
In 'n meningspeiling waarby 2000 volwassenes betrokke was, is bevind dat sonskyn die ding is wat ons die meeste kere laat glimlag. Maar afslag by die kasregister, die vind van 'n R100-noot agter 'n kussing op die rusbank en 'n vreemdeling wat vir jou die deur oophou, laat ons ook vriendelik tande wys.
Ander dinge wat mense laat glimlag is die gelag van 'n baba, 'n bejaarde paartjie wat hande vashou, 'n parkeerplek, alleeneienaarskap van die televisie se afstandbeheerder en om deur 'n verkeerslig te ry voor die lig rooi word.
Wat jou ook al laat glimlag, maak seker jy doen dit so dikwels moontlik.













