Welstand

GESOND: Kies dit, eerder as dit!

FOTO: Unsplash / Brooke Lark
FOTO: Unsplash / Brooke Lark

Nacho's of Salticrax? Muffin of skon? Sjokolademousse of roomys? Gin & tonic of cider? Kies jy slim, kan jy steeds lekker eet!

KIES: Sade-en-rog-kraakbeskuitjies (banting crackers) met hoemoes

EERDER AS: Gegeurde en gepofte kraak-happies (soos ryskoekies, mielieskyfies en cracker bread met hoemoes)

Kraakbeskuitjies bevat gewoonlik geen kunsmatige geur-, kleur- of preserveermiddels nie. Dis boonop propvol voedingstowwe en vesel. Anders as die meeste gegeurde en gepofte alternatiewe, het dié happie ook min verfynde koolhidrate en dis dus beter vir bloedsuiker-beheer.

KIES: Mikrogolf-springmielies

EERDER AS: Aartappelskyfies (crisps)

Jy kou heelwat langer aan 2 koppies springmielies as 'n klein bakkie aartappelskyfies. Mikrogolfspringmielies is boonop nie so hoog in vet soos aartappelskyfies nie. Kies jy die sout opsie, spring jy ook allerhande kunsmatige geur-, kleur- en preserveermiddels vry. Kyk uit vir 'n handelsnaam sonder

gehidrogeneerde (hydrogenated) vet, of nog beter: maak dit self in 'n kastrol met olyfolie!

KIES: Pastrami gesmeer met mosterd, om 'n agurkie gerol

EERDER AS: Chinese rolletjies (spring rolls)

'n Vinnige, maklike en elegante versnapering - sonder die diepvet-slaggat. Mosterd bevat voedingstowwe wat as antioksidante optree en jou liggaam dus help beskerm.

KIES: Mielie-nacho-skyfies met avokado-doopsous en salsa

EERDER AS: Salticrax met roomkaas-doopsous

Nacho-skyfies bevat sowat 20% minder vet as Salticrax en avokado is propvol gesonde onversadigde (goeie) vette vergeleke met die roomkaas-doopsous.

KIES: 'n Skon met 'n bietjie konfyt en eetlepel geklopte room

EERDER AS: Wortel-en-pekanneut-muffin

Oppas vir die sogenaamde "gesondheidsmuffin" - dis gewoonlik maar nes koek. 'n Wortel-en-pekanneut-muffin het maklik dubbel die hoeveelheid koolhidrate as 'n skon van dieselfde grootte. Dis inderwaarheid 'n hele sny brood se koolhidrate meer. Eet liewer die skon met 'n lekseltjie konfyt en room. Albei het egter genoeg kJ om 'n maaltyd te vervang.

KIES: Sjokolademousse

EERDER AS: Roomys

Klop 'n bietjie lug by! Dit maak die volume meer, maar die kilojoules (kJ), suiker en vet minder. 'n Halwe koppie roomys het byna 3 keer meer suiker en vet as 'n halwe koppie sjokolademousse. Of maak jou eie "basaarpoeding" met jellie en ingedampte melk om kJ te spaar.

KIES: Gin, tonic en soda

EERDER AS: Sider en ander alkoholiese vrugtedrankies

Dis warm en iets koels is verfrissend. Verdun die suiker en kJ deur ekstra sprankel by te voeg. 'n Glas (250 ml sider) bevat maklik 30 g koolhidrate. Terwyl 'n glas tonic byna die helfte minder het. Verdun jy die tonic verder met soda, spaar jy sommer 'n hele klomp leë kJ. Jy kan natuurlik ook die hoeveelheid alkohol beter beheer. Wyn het baie min koolhidratesuiker, maar die alkohol in 150 ml wyn gaan meer energie (kJ) hê as 'n sopie (25 ml) gin.

Om te weet:

Besluit vooraf: Is dit 'n maaltyd, of wil jy peusel? Peuselkos moet liefs nie meer as 500 - 800 kJ per keer bevat nie. En kombineer dit met 'n vrug.

Onthou! Jou maag moet versadig voel om die boodskap na jou brein te stuur dat jy genoeg gehad het. Iets baie vetterigs maar klein - dit het dus baie kJ, maar is nie besonder groot nie - kan jou laat aanhou eet. Kombineer etes en peuselgoed met 'n glas water of 'n beker rooibostee.

Moenie eet terwyl jy werk/lees/loop nie - jou aandag is elders en voor jy jou oë uitvee, is die pak leeg.

Probeer om nie elke dag verfynde kos (witmeel, witbrood, muffins) te eet nie. Vrugte, neute en jogurt is 'n voedsame, kJ-vriendelike maaltyd of peuselhappie.

Hierdie artikel het oorspronklik in SARIE se Desember 2016-uitgawe verskyn en is verwerk deur Mariza van Zyl, 'n geregistreerde dieetkundige van die Paarl. Besoek haar webblad by www.betereat.co.za

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM