Welstand

Pasop! Dié vrugte bevat baie suiker

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die oormatige inname van soetgoed word met verskeie gesondheidstoestande soos gewigstoename/vetsug, verhoogde risiko vir tipe 2-diabetes, hoë bloeddruk en hartsiekte in verband gebring. Maar terwyl ons hoor suiker is sleg vir ons, word ons ook aangeraai om vrugte te eet, en party daarvan bevat groot hoeveelhede suiker.

Dié skynbaar teenstrydige gesondheidsraad veroorsaak kommer en verwarring. In so 'n mate dat vrugte selfs van die lys van party diëte verwyder is. Maar moet ons regtig vrugte heeltemal vermy?

Die meeste dieetriglyne beveel aan jy eet 'n gebalanseerde mengsel van volgraan, vrugte, groente, maer proteïen, minvet- en vetvrye suiwelprodukte en drink water.

Hier is hoekom ons nie moet bang wees om 'n paar vrugte by ons daaglikse dieet te voeg nie:

Daar is suiker - en dan is daar bygevoegde suiker

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Suiker kom in baie kosse natuurlik voor, onder meer vrugte en groente, suiwel en graan. Met natuurlik word bedoel dit is nie bygevoegde suiker - wat party voedselvervaardigers in hul produkte sit om geur te verbeter en rakleeftyd te verleng - nie.

Plantkosse soos vrugte en groente bevat ook noodsaaklike vitamiene en minerale, antioksidante en vesel wat vir ons voordelig is.

Nog 'n pluspunt is dat ons liggaam die natuurlike kosse stadig verteer wat beteken ons kry 'n geleidelike voorraad van energie eerder as die suikerinspuiting wat ons dalk uit 'n blik koeldrank kry. En dit is waarskynlik al ding wat ons uit 'n blik koeldrank sal kry, want dit hou gewoonlik geen ander gesondheidsvoordele in nie.

Dikwels besef ons nie hoeveel suiker ons inneem nie, want dit word by kos en drinkgoed bygevoeg. Die bygevoegde suiker voeg kilojoules by maar geen voedingstowwe nie, en dit is die probleemkind wat ons gesondheid betref.

Dit is immers nie vrugte wat veroorsaak dat vetsugvlakke die hoogte in skiet nie - dit is weens onder meer bygevoegde suiker in nageregte en energiedrankies en 'n gebrek aan liggaamlike aktiwiteit.

Dit is steeds die moeite werd om te weet party vrugte het 'n veel hoër suikerinhoud as ander. En veral met siektes soos diabetes, tel elke bietjie kennis oor jou suikerinname.

Vrugte met min suiker sluit in:

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
  • Suurlemoene en lemmetjies. Dit bevat baie vitamien C en min suiker - daar's net 'n gram of twee per suurlemoen of lemmetjie. Sit dit in jou water vir 'n verfrissende geur en 'n vitamien C-inspuiting. Dit kan ook jou eetlus help demp.
  • Avokado's en olywe. Dié kossoorte is in die werklikheid vrugte. Dit is 'n goeie keuse om jou suikerinname laag te hou - met minder as 1 g suiker per avokado en geen suiker in olywe nie.
  • Rabarber en bessies soos bosbessies, swartbessies, aarbeie en frambose het ook redelike lae suikervlakke en dit het bykomende voordele soos 'n hoë veselinhoud en antioksidante.

Vrugte met baie suiker sluit in:

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dadels. Dit bevat besonder baie suiker - 100 g daarvan het ongeveer vier keer soveel suiker as dieselfde hoeveelheid druiwe.

Wees ook versigtig met lietsjies (100 g het sowat 4 teelepels suiker), piesangs ('n kleintjie = 3 teelepels suiker), kersies (1 koppie = 3 teelepels suiker), mango's (½ kleintjie = 3½ teelepels suiker), druiwe ('n tros van sowat 22 korrels = 3½ teelepels suiker) en granate (100 g = 3½ teelepels suiker).

Grootte maak saak

Porsiegroottes is noodsaaklik. Dit is ook belangrik om op te let na hoeveel van 'n sekere soort vrug jy eet.

Byvoorbeeld, daar is rofweg soveel suiker in 'n klein appel of 'n klein piesang as wat daar in drie koejawels, een en 'n halwe middelslag-pomelo of 16 middelslag-aarbeie is.

Moenie dat hierdie items jou om die bos lei nie:

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
  • Vrugteskommels - As jy nie jou eie by die huis maak nie, kyk dat dit wat jy koop nie bygevoegde suiker soos heuning of agave-stroop bevat nie.
  • Vrugtesap - Dit bevat dikwels baie bygevoegde suiker. Maak dus seker daar staan op die etiket dis 100% egte vrugte.
  • Droëvrugte - Die suiker daarin is meer gekonsentreerd, wat meer kilojoules beteken. Droë appelkose bevat byvoorbeeld sowat ses keer soveel suiker as vars appelkose.
  • Geblikte vrugte - Nes bevrore vrugte bevat dit soortgelyke hoeveelhede vitamiene en minerale vergeleke met hul vars ekwivalente. Maar omdat geblikte vrugte gewoonlik in stroop verpak word, bevat dit ekstra suiker en kilojoules. Byvoorbeeld, twee geblikte perskehelftes in dik stroop is gelykstaand aan 6 teelepels suiker.

Bronne: Everydayhealth.com, Fatsecret.com, Health.harvard.edu, Healthline.com, Nutritiouslife.com, Mayoclinic.org, Theglobeandmail.com, Webmd.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM