Mense

VIDEO: Pasop, Wagter! Nuuskierige hond brand amper eienaars se huis af

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Skermgreep: Facebook
Skermgreep: Facebook

Hoe lui die gesegde nou weer: Curiosity killed the cat, of hoe? Ons het ook al van sogenaamde haastige honde gehoor wat hul monde verbrand. Maar van moedswillige viervoetige brandstigters weet ons beslis nie.

So hoe het dié vuur dan ontstaan as die hond die enigste een is wat op 'n tuisvideo gesien kan word?

Kyk hier na die video:

Watter hond het dan nou nog nie met sy snoet so net-net bo-op die kombuistoonbank kom rondsnuffel vir 'n stukkie brood of koekies wat per ongeluk daar gelos is nie?

Die verskil is net: Dié keer het 'n nuuskierige hond in die proses so hittete sy eienaars se huis afgebrand.

'n Gesin in Colorado Springs se boonste verdieping is "onleefbaar" en een persoon is hospitaal toe gejaag nadat hy rook ingeasem het nadat 'n "nuuskierige" hond op sy agterpote gestaan en een van die gasstoof se plate oopgedraai het.

Op die stoof was bokse wat toe aan die brand geslaan het. Dit het onmiddellik 'n redelike brand veroorsaak, wat tot groot skade gelei het.

Die Colorado Springs-brandweerstasie het op Facebook geskryf: "Huiseienaars het aan ons gerapporteer dat daar 'n brand op die stoof in hul huis is, wat deur een van die huiseienaars geblus is."

Die eienaars is gelukkig deur die Apple HomePod-app op hul foon wakkergemaak toe dit 'n "High heat"-waarskuwing aangedui het.

"Toe ons opdaag, was daar geen sigbare vuur of rook nie, maar wel bewyse van 'n brand. 'n Huiseienaar kon die brand blus voor ons daar aangekom het, maar is later na 'n plaaslike hospitaal geneem vir die rook wat hulle ingeasem het.

"Nadat ons met die huiseienaars gepraat en deur hul huissekuriteitsbeeldmateriaal gekyk het, het ons vasgestel hul hondjie het 'n bietjie nuuskierig geraak en per ongeluk die oond aangeskakel," sê die Colorado Springs-brandweerbeamptes.

Een van die eienaars se ma's het intussen 'n GoFundMe begin ná die gesin se klere als weens die rook beskadig is. "Hulle boonste verdieping is nou onleefbaar. Hulle het hulp nodig met finansies omdat hulle uit hul huis is. Ook haar honde en ander diere word verplaas," skryf die ma.

Gelukkig is niemand beseer nie en selfs die woefie het ongedeerd daarvan afgekom.

Bronne: Fox News, NY Post

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM