Die polisie vra die gemeenskap se hulp om die verdagtes op te spoor wat by die Koffiefontein Gekombineerde Skool in die Vrystaat ingebreek en onder meer 12 skootrekenaars gesteel het.
Die inbraak het Donderdagaand of -nag gebeur.
Hester van Wyk, skoolhoof, het volgens die polisie die skoolterrein Donderdag omstreeks 17:55 verlaat.
Sers. Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder, sê toe Van Wyk Vrydag omstreeks 06:10 by die skool aankom, het sy opgemerk dat die hoofhek en die voordeur van die administrasieblok oopstaan. In die kantoor het sy ontdek dat daar by die instapkluis ingebreek is. ’n Kleiner kluis is ook verwyder, lui Mpakane se verklaring.
Twee selfone, 12 skootrekenaars en ’n onbekende bedrag kontant is volgens die polisie uit die kluis gesteel.
• Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagte/s kan lei, kan die Koffiefontein-stasiebevelvoerder by 082 467 6301 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel. Inligting kan ook anoniem deur die MySAPS-toepassing verskaf word.











