Babarooijakkals in VS gered wat op Facebook te koop was

Die klein rooijakkalsie is in ’n sinkhuis in Clarens aangehou voordat hy gered is.
Die klein rooijakkalsie is in ’n sinkhuis in Clarens aangehou voordat hy gered is. (Verskaf)

’n Intelligensiegedrewe operasie deur die polisie in Clarens in samewerking met die Wildlife Crime Information Network (WCIN) het gelei tot die redding van ’n verskrikte babajakkalsie wat op ’n private sosialemediagroep te koop aangebied is.

Nadat die inligting ontvang, geverifieer en gedeel is, is die vermeende verkoper in die Kgubetswana-township in Clarens opgespoor. Die polisie het die persoon opgespoor en die perseel gefynkam, waartydens die klein rooijakkals lewend gevind is.

Die jakkalsie is gekonfiskeer en na die Clarens-polisiekantoor geneem, terwyl die persoon ’n boete van R3 000 opgelê is ingevolge die Vrystaatse Natuurbewaringsordonnansie, nr. 8 van 1969.

Leon Rossouw van die WCIN sê die verkoper beweer hy het die jakkalsie in die veld gekry en nie geweet dat dit onwettig was om die dier aan te hou of te verkoop nie. Nadat die verkoper ’n boete opgelê is, moes daar vinnig plan gemaak word om die jakkalsie tydelik deur ’n veearts te laat versorg vir die nag totdat Vrystaat-natuurbewaring die dier vir rehabilitasie na die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital kon neem.

“Daar is toe vinnig ’n plan beraam en kontak gemaak met die Cluny-dieretrust in Fouriesburg, wat ingestem het om die jakkalsie oornag in te neem en te monitor. Die dier is die volgende oggend aan Vrystaat-natuurbewaring oorhandig en na die Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital geneem,” sê hy.

Die klein rooijakkals is hier veilig in die hande van ’n polisiebeampte in die Clarens-polisiekantoor nadat hy gered is.
Die klein rooijakkals is hier veilig in die hande van ’n polisiebeampte in die Clarens-polisiekantoor nadat hy gered is. (Verskaf)

Rossouw sê die saak beklemtoon die toenemende bedreiging wat die onwettige handel in natuurlewe aanlyn inhou en demonstreer die belangrikheid van intelligensie-deling en samewerking tussen wetstoepassingsowerhede en natuurlewemisdaad-organisasies.

“Elke dag is ’n uitdaging om die verkopers wat onwettig handel dryf met natuurlewe vas te trek. Dit is regtig kommerwekkend om te sien hoe maklik wilde diere elke dag dood of lewend op verskillende private sosialemediagroepe te koop aangebied word,” sê Rossouw.

“Natuurlewe is nie ’n kommoditeit wat aanlyn verhandel moet word nie. Lede van die publiek word aangemoedig om vermoedelike onwettige besit, vervoer of verkoop van natuurlewe by WCIN aan te meld sodat die inligting geverifieer en met die relevante owerhede gedeel kan word.”

Lt.kol. Thabo Covane, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, sê die samewerking tussen die WCIN en die polisie se teenstropingseenheid, en oorgrensondersoeke het ook gelei tot die inhegtenisneming van ’n 30-jarige man van Reitz wat ’n bergskilpad op Facebook geadverteer het. Die deurbraak in die saak van die man (19) van Clarens wat in verband met die jakkals gevang is, het daarop gevolg.

Die bergskilpad is in Reitz gered nadat ’n man die reptiel op Facebook  geadverteer het.
Die bergskilpad is in Reitz gered nadat ’n man die reptiel op Facebook geadverteer het. (Verskaf)
  • Rapporteer enige natuurlewemisdade via die WCIN se noodlyn, 079 643 9556, of stuur ’n e-pos na report@wcin.org.za. Alle inligting wat verskaf word, word streng vertroulik hanteer.

SPELETJIES VANDAG

CTA