Knysna-waterkrisis: Buffer vir Dag Zero met 7 dae verstewig

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.
Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning. (theo jeptha/Foto: Theo Jeptha)

Knysna het nou ’n buffer van 17 dae se water, wat ietwat van ’n verligting is nadat dit twee weke gelede op 10 dae gestaan het.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het die stewiger buffer vir waterverskaffing Dinsdag bevestig.

Bredell sê hy is bemoedig deur die vordering wat gemaak word met die dorp se waterkrisis.

Die gesamentlike bedryfskomitee belas met toesig oor Knysna se watersituasie het aan Bredell terugvoering gegee dat die vlak van die Akkerkloofdam in die afgelope week van 15% tot 20,9% gestyg het.

Huidige waterverbruik

Huidige waterverbruik in Knysna is ongeveer 10,1 megaliter per dag, wat te staan kom op in ’n buffer van 17 dae vir waterverskaffing. Dit is ’n merkbare verbetering van die buffer van 10 dae wat skaars twee weke gelede vermeld is.

Tegnici het 29 klein waterlekkasies herstel, terwyl geen noemenswaardige gebreekte pype die afgelope dae aangemeld is nie.

Ook is geen probleme met die waterpompe aangemeld nie.

Die Charlsford- en Eastford-pompstasie onttrek tans water uit die Knysnarivier teen ’n tempo van 210 liter per sekonde. Die Akkerkloof-pompstasie werk tans teen 44 liter per sekonde, terwyl die Glebedam-pompstasie teen 33 liter per sekonde pomp.

Herstelwerk en watermeters belangrik

Volgens Bredell het die gesamentlike bedryfskomitee homself verder verbind om voortaan 1 000 watermeters per week te installeer. Dié ingryping is daarop gemik om ongeveer 8 000 ontkoppelde meters te vervang wat tans doeltreffende waterbestuur in Knysna belemmer.

Daarbenewens ontwikkel die komitee ’n brandkraanherstelplan om stelselintegriteit en brandblusgereedheid te verbeter.

“Ek is tevrede met die vordering wat aangemeld is. Terwyl die onmiddellike fokus op Knysna is, bly die hele Suid-Kaap-streek onder waterstres, en huidige weervoorspellings vir die Wes-Kaap dui op ’n droë winter.

“Effektiewe waterbestuur in al ons dorpe sal kritiek wees in die jaar wat voorlê. Ons kan nie die reën beheer nie, maar ons het volle beheer oor hoe ons die waterhulpbronne tot ons beskikking bestuur,” het Bredell gesê.

Bredell en Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het verlede week op ’n gesamentlike mediakonferensie albei klem gelê op watertekorte in die provinsie, maar ook die uitwerking wat wydverspreide veldbrande op die watervoorraad gehad het.

Watertekorte

Wat watertekorte betref, het Winde spesifiek na die situasie in Knysna verwys, maar ook na ander dorpe in die Karoo waar waterskaarste heers.

Die landbousektor word ook nie net deur die droogte geraak nie; bek-en-klouseer bly volgens Winde ook ’n groot kopseer.

Graham Paulse, hoof van die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering.
Graham Paulse, hoof van die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering. (Foto: Theo Jeptha)

Graham Paulse, departementshoof van plaaslike regering in die Wes-Kaap, sê verlede jaar dié tyd was die gekombineerde damvlak in die provinsie 80%. Dit is tans 58%.

Wat munisipaliteite betref, is daar in die Sentraal-Karoo en die Suid-Kaap ’n aantal dorpe waar die watervoorraad onder druk is, met die hoërisiko-munisipaliteite dié van Knysna, Kannaland (Ladismith, Calitzdorp), Zoar en Beaufort-Wes.

Knysna: Waterdiefstal die groot probleem

Paulse het gesê indien almal saamwerk, behoort daar nie ’n Dag Zero met geen water in die krane in Knysna aan te breek nie.

Volgens hom is die grootste probleem met die watersituasie in Knysna dat tot 7,9 megaliter water daagliks verlore gaan weens gebarste waterpype en inwoners wat nie aan watermeters gekoppel is nie.

Paulse het gesê dié situasie is so erg dat daar tot 8 000 gevalle is waar inwoners water gebruik wat nie aan watermeters gekoppel is nie.

Kannaland en Beaufort-Wes is in dieselfde bootjie, met plaaslike rampe wat verklaar is.

Volgens Paulse is die goeie nuus dat George en Swellendam met die provinsiale regering saamwerk en hul watervoorraad verbeter het. Hulle het nou na die mediumrisiko-kategorie geskuif.

Hy sê baie munisipaliteite het reeds verskillende vlakke van waterbeperkings ingestel. In Knysna is die impak van die waterbeperkings dat 50 liter water per dag per inwoner beskikbaar is.

Bredell sê weens klimaatsverandering en veranderende weerpatrone, asook die groei in die provinsie se bevolking, is dit belangrik dat meer geld vir rampbestuur verseker word. Bredell sê die Wes-Kaapse regering het sedert 2018 sowat R250 miljoen bestee om waterstelsels, soos dié van munisipaliteite, op te gradeer.

– Jana.Breytenbach@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA