Natuurbewaarders op patrollie in die Krugerwildtuin het in die afgelope week ’n vermeende stroper doodgeskiet en in ’n ander voorval beslag gelê op ’n hoëkalibergeweer.
In die eerste voorval Donderdag in die Malelane-gebied, het natuurbewaarders afgekom op stroperbedrywighede. Niemand is in hegtenis geneem nie, maar ’n geweer en sakke is op die toneel gekry, sê Sanparke in ’n verklaring.
Vrydagaand was natuurbewaarders in die Stolznek-gebied, naby die Berg-en-Dal-ruskamp, betrokke ’n skietery en ’n vermeende stroper is doodgeskiet.
Die bewaarders is nie beseer nie en daar was geen verdere inhegtenisnemings nie.
Sanparke sê die twee voorvalle wys hoe doeltreffend patrolliewerk deur die natuurbewaarders is om stropery van renosters hok te slaan.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersoek die voorvalle.
Sanparke bedank die bewaarders wat bereid is om hul lewens op die spel te plaas om die land se natuurlike erfenis te beskerm en sê hulle sal voortgaan met die geveg teen stropery om sodoende die voortbestaan van renosters te verseker.















