VS: Vermiste luiperd ná 12 dae dood gekry

Ter illustrasie.
Ter illustrasie. (Foto: Facebook/ Vrystaatse departement van ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake.)

Die luiperd wat vroeër vandeesmaand uit ’n kamp op die Mooifontein-wildsplaas in die Reddersburg-distrik in die Vrystaat ontsnap het en sedertdien vermis was, is Saterdag op dieselfde plaas dood gekry.

Volgens die Vrystaatse departement van ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake is die eenjarige luiperdwyfie van 25,8 kg Saterdag om 01:30 by die bergagtige gedeelte van die wildsplaas gekry.

LEES OOK | Luiperd ontsnap van wildsplaas in Vrystaat

Mojalefa Mphapang, departementele woordvoerder, sê die departement se omgewingsinspekteurs, relevante rolspelers en die polisie het ’n reusesoektog na die luiperd onderneem.

Hommeltuie en termiese kameras is tydens die soektog ingespan.

Die oorsaak van die wyfie se dood sal ondersoek word.

Volgens Mphapang is daar teen Saterdag nog nie aangemeld dat die dier enige skade aangerig het terwyl sy vermis was nie.

Netwerk24 het voorheen berig die luiperd het op 16 Februarie luidens ’n voorlopige ondersoek uit die boonste hoek van een van die kampe ontsnap.

Mphapang het toe gesê die wildsplaas se verslag dui daarop dat hewige weerstoestande bome verwoes en die elektriese heining ontkoppel het, wat tot die ontsnapping gelei het.

SPELETJIES VANDAG

CTA