Promosie

Hoe om ’n mislukte staat te oorleef

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kenners is van mening dat daar tendense is wat Suid-Afrika as ’n “mislukte staat” kan klassifiseer, maar daar bestaan wel beleggingstrategieë wat jy kan oorweeg om voordeel te trek uit hierdie onsekere tye.
Kenners is van mening dat daar tendense is wat Suid-Afrika as ’n “mislukte staat” kan klassifiseer, maar daar bestaan wel beleggingstrategieë wat jy kan oorweeg om voordeel te trek uit hierdie onsekere tye. (SYSTEM)

As daar een ding is wat ekonome nogal veglustig maak, is dit die onderwerp of Suid-Afrika besig is om 'n mislukte staat te word.

Onlangs was daar 'n bitter bekgeveg tussen twee van SA se voorste ekonome, Dawie Roodt en Roelof Botha, oor hierdie onderwerp, eers op RSG en toe later op ander media soos Netwerk24.

Botha, algemeen bekend as 'n sonskyn-ekonoom, het heftig uitgevaar teen die gedagte dat SA eendag as 'n mislukte staat sal opeindig. Roodt, daarenteen, het uitgewys dat SA in vele opsigte reeds 'n mislukte staat is en in baie opsigte besig is om te misluk. Word hierdie tendense nie vinnig omgedraai nie, sal SA werklikwaar oor 10 jaar of wat 'n mislukte staat wees.

Indien jy kyk na wat die afgelope jaar op verskeie terreine in SA gebeur het, soos die KwaZulu-Natal/Gauteng-onluste in Julie vanjaar, die verdere ineenstorting van Eskom, asook die gebrek aan dienslewering oral - onder meer die poskantoor, spoorweë, hawens en ook die kantoor van die Meester van die Hooggeregshof, dan is daar 'n duidelike tendens wat nie geïgnoreer kan word nie.

Een minder bekende ekonoom, Claude Baissac van Eunomix, het onlangs weer 'n verslag gepubliseer wat waarsku dat indien huidige trajekte in die SA ekonomie en samelewing nie spoedig omgekeer word nie, die land teen 2028 bekend sal staan as 'n mislukte staat, en een van die min lande ter wêreld sal wees wat oor tyd van 'n hoë-inkomsteland gedaal het tot 'n middelinkomsteland, met gemiddelde welvaart per kapita laer as die gemiddelde ter wêreld. Die vernaamste redes hiervoor is die skerp daling in die ekonomiese groeikoers die afgelope sewe jaar en meer.

Ander lande reeds in hierdie kategorie sluit in Argentinië, Griekeland en selfs Venezuela.

Al hierdie lande word gekenmerk deur stygende armoede, probleme met betalingsbalanse, fiskale tekorte, groot werkloosheid en sosiale onrus.

Eunomix gebruik 'n komplekse stel ekonomiese aanwysers wat 'n land se ekonomiese toekoms probeer uitspel en het 'n sukseskoers van 91% (vooruitskattings teenoor die werklikheid).

Indien die Eunomix-verslag naastenby korrek is, beteken dit nog 'n verdere verarming van baie Suid-Afrikaners asook beleggers in die middel- tot hoër-inkomstekategorieë. Hierdie soort advies val nie altyd goed op die oor nie en ontlok soms heftige kritiek, maar daar is 'n wêreldse verskil tussen die oogmerke van batebestuurders (wat bates onder bestuur wil behou) en dit van onafhanklike adviseurs wat in belang van hul kliënte optree.

Tendense baie duidelik

Hierdie tendense was die afgelope 10 jaar baie duidelik op veral drie terreine: die waarde van residensiële eiendomme, die vertoning van die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) en die wisselkoers.

Dis welbekend dat die prys van residensiële eiendomme in SA oor die afgelope 10 jaar nie daarin geslaag het om die inflasiekoers te klop nie. In baie streke en dorpe in die land het dit moeilik geword om die prys van eiendom vas te stel, want die funksionering van 'n normale mark tussen kopers en verkopers bestaan nie meer nie. Baie klein dorpies, veral in die noordweste van die land, toon reeds simptome van 'n "mislukte staat".

Hierdie tendens is besig om ook in groter dorpe en stede, soos Bloemfontein, Pietermaritzburg en selfs Polokwane, plaas te vind.

Eiendom is derhalwe die eerste bateklas wat verkoop moet word indien geglo word dat SA bestem is om op die rommelhoop te eindig. Hoe gouer, hoe beter, want 'n gebrek aan kopers kan amper oornag ontwikkel en dan is eiendomme amper waardeloos, soos wat baie mense reeds ondervind het.

Rolspelers in die eiendomsmark (agente, ontwikkelaars en bouers) is lief daarvoor om die term "belegging" rond te gooi wanneer dit kom by eiendom, maar eiendom in 'n mislukte staat-scenario kan dalk waardeloos word. Eienaars sal egter steeds verplig word om erfbelasting en ander dienste te betaal.

Die rand sal ook vroegtydig in 'n daalfase ingaan, soos trouens die afgelope tien jaar met Argentinië gebeur het. Die Argentynse peso was 'n dekade gelede sowat 3 teenoor die VSA-dollar, maar vandag verhandel dit teen bykans 90 teenoor die Amerikaanse geldeenheid.

Die rand het die afgelope vyf jaar relatief sterk vertoon en het nie veel verander nie, maar in die voorafgaande vyf jaar het die rand van R6,50/$ tot R15/$ gedaal. Verlede week se artikel het juis probeer waarsku dat hierdie gunstige toestande wat die rand betref dalk reeds verby is en dat die moontlikheid van R20 teen die dollar oor die volgende vier tot vyf jaar glad nie vergesog is nie.

Dit kan selfs baie meer as dit daal, afhangende van wat die ANC-regering in die volgende twee jaar doen in terme van fiskale beleid in die aanloop tot die volgende algemene verkiesing.

Prof. Michael Sachs, voorheen by die tesourie en deesdae verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, het juis hierdie week gewaarsku dat SA afstorm op 'n fiskale krisis.

Die laaste beleggingsklas wat liefs ook vermy moet word (hoe nader SA aan mislukte status kom) is die JSE wat die afgelope 10 jaar baie swakker as die wêreldgemiddelde vertoon het. Kapitaal vloei steeds uit die beurs en baie maatskappye denoteer of is van plan om op ander beurse te noteer. Dit beteken niks goeds vir geleenthede vir beleggers op die JSE nie.

Die meeste mense kan dit nie bekostig nie of het nie planne om die land te verlaat nie, maar dit beteken nie dat mense nie vroegtydig stappe kan neem ten einde hierop voor te berei nie.

Derhalwe word die volgende beleggingstrategieë aanbeveel:

  1. Verkoop enige vaste eiendom terwyl daar nog kopers is. Die dae van "koop om te verhuur" is lankal verby. Dit gaan nie verbeter nie. Omskep alle eiendomme, uitgesonderd persoonlike woonhuise, in kontant en neem dit oorsee.
  2. Skep 'n oorsese neseier met buitelandse aandele en koppel dit aan 'n oorsese bankrekening en debietkaart. Valutabeheer sal heel waarskynlik weer ingestel word soos wat die land se ekonomiese situasie vererger.
  3. Verkoop meeste, indien nie alle, plaaslike aandele en skep eerder 'n buitelandse beleggingsportefeulje wat nie geraak sal word deur die toenemende verswakking in SA nie.
  4. Veral jonger mense moet eerder plaaslike aftreeprodukte vermy en buitelandse bates opbou. Die tesourie maak dit reeds moeilik vir mense om toegang tot hul geld in aftreefondse te kry by aftrede, indien hulle emigreer, en hierdie neiging sal waarskynlik skerp toeneem namate die finansiële situasie versleg.

Daar is altyd die kans dat die regering se denkwyse oor ekonomiese bestuur van die land kan verander, maar daar is 'n groter kans dat die ANC tussen nou en die algemene verkiesing in 2023 dalk sal besluit om die geldkrane oop te draai in 'n desperate poging om die stemvee om te koop, om sodoende die ANC weer in beheer van die land te plaas, met katastrofiese gevolge vir die wisselkoers, rentekoersvlakke sowel as die waarde van meeste plaaslike bateklasse.

*Magnus Heystek is 'n beleggingstrateeg by Brenthurst Wealth, SA se top-boetiekwelvaartbestuurder in 2017 en 2020. Brenthurst het agt kantore landwyd en een in Mauritius. Gaan na hul webtuiste vir meer inligting of skryf aan invest@brenthurstwealth.co.za vir enige beleggingsnavrae.

Magnus Heystek

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM