
'n Mens vergeet soms dat die winterweer ook ons wollerige huismaats affekteer. Daarom moet spesiale sorg tydens die koue maande getref word om hulle veilig en gelukkig te hou.
Wendy Wilson van die Centre of Applied Pet Ethology (COAPE SA) deel 'n paar wenke.
Sy sê dat jou katte en honde tydens die wintermaande kouer gaan kry, is voor die hand liggend, maar wat van al die ander gevare wat met ysige weerstoestande gepaardgaan? Jy sal verbaas wees oor al die klein dingetjies wat in 'n tragedie kan ontaard.
Let op na die volgende:
- Katte onder die motor: Katte kruip soms onder die enjinkappe van motors in of slaap bo-op die wiele omdat dit so lekker warm is. Wanneer jy dan die motor aanskakel, kan die waaierband die kat beseer of selfs doodmaak, of hy kan onder 'n wiel beland. Maak 'n gewoonte daarvan om op wintersoggende met jou hand op die enjinkap te slaan, selfs al het jy nie self 'n kat nie!
- Troeteldiere in die motor: Ons almal weet dat dit onverantwoordelik is om in die somer 'n hond of kat in 'n voertuig toe te sluit. Dit is net so erg in die winter, want die motor werk dan amper soos 'n yskas en jou troeteldier kan verkluim as jy hom te lank daar los, veral oornag.
- Medisyne: Die winter beteken verkoue en griep vir die meeste van ons. Onthou net dat menslike medikasie skadelik vir diere is - hou dit dus buite hul bereik. Moet ook nie vir jou dier menslike medikasie ingee indien hy gedurende die winter siek raak nie - gaan spreek jou veearts.
- Kaggels: Min dinge is so lekker soos 'n warm kaggelvuur of verwarmer in die winter! Maar wees tog versigtig dat jou hond of kat nie brandwonde opdoen nie. Plaas 'n skerm voor die vuur en moenie kaggels oornag laat brand nie. Maak ook seker dat jou hond nie die verwarmer per ongeluk kan omstamp nie.
- Hondehokke: As jou hond gedurende die dag buite moet bly terwyl jy werk, sorg dat daar vir hom 'n skuiling is. Dit moenie direk op die grond staan nie, want dit kan veroorsaak dat hitte verlore gaan.
- Water: Die meeste honde baljaar graag in die water, veral wanneer jy met hulle gaan stap. In die winter kan die water egter te koud vir jou hond wees. Hou die hond aan sy leiband of roep hom terug wanneer hy koers kies na die water.
- Hou hulle warm: As jy ouer troeteldiere of buitehonde warm wil hou, vermy elektriese komberse en oorweeg 2 l-koeldrankbottels gevul met warm water wat jy tussen hul komberse indruk. Sakke gevul met graan of rys wat jy in die mikrogolf kan verhit, werk ook uitstekend.
- Jassies: Honde met korter hare kry vinniger koud en kan in die winter dalk 'n hondejassie nodig kry. Maak net seker dat die jassie droog bly - dit kan dalk nat raak wanneer hy buite rondloop. Koue kledingstukke kan tot hipotermie lei. Hou ook 'n ogie oor jou honde terwyl hulle die jassies aan het, want hulle kan daarin verstrengel raak.
- Voeding: Diere verbrand in die winter meer energie omdat hulle warm probeer bly. Gee hulle in die wintermaande dus 'n bietjie meer kos. Maak ook seker dat daar genoeg vars drinkwater is - dit sal sorg dat hulle gehidreer bly en hul vel nie te droog word nie. Indien jou troeteldiere gedurende die wintermaande minder aktief is, pas hul voeding aan sodat hulle nie te veel gewig aansit nie.

GEBORG
Montego

Wen met Montego se nuwe You Can't Beat a Classic-kompetisie! Wil jy kos vir jou troeteldiere aanskaf? Gaan na jou naaste deelnemende kleinhandelaar, koop enige droë Montego Classic-hondekos of -katkos in die winkel, vul die inskrywingsvorm in en jy het 'n kans om 'n Megamaster-potjie EN 'n groot prys van R50 000 te wen! Bepalings en voorwaardes geld.
Petzone

Petzone is in 2017 in die West Pack Lifestyle-familie verwelkom. West Pack Lifestyle is 'n Suid-Afrikaanse kleinhandel-handelsmerk wat bekend en geliefd by gesinne is danksy die wye verskeidenheid opsies in die winkel en die bekostigbare pryse. Hul span floreer daarop om kliënte van uitstekende diens te voorsien en met 'n glimlag te verwelkom. Wat Petzone van West Pack Lifestyle uniek maak, is dat dit iets vir elke begroting bied - van bekostigbare troeteldiervoeding tot tophandelsmerke wat voorsiening maak vir alle soorte diere. Die beste is dat alle winkels troeteldiervriendelik is sodat jou pelsbaba die inkopietog kan meemaak.
Die blad is betaal en die inhoud verskaf deur die adverteerder. Netwerk24 aanvaar geen aanspreeklikheid vir die geadverteerde dienste of produkte nie.












