
Louis van Vuren, hoofuitvoerende beampte van die Fidusiêre Instituut van Suider-Afrika (Fisa), deel 'n paar kernoorwegings met die opstel van 'n testament, en beklemtoon die waarde van kundige leiding om seker te maak jou testament sê presies wat jy daarin bedoel.
Dis baie maklik om 'n testament op te stel - en dis redelik maklik om seker te maak dis geldig onderteken volgens wetsvoorskrifte. Wat nie so maklik is nie, is om seker te maak dit is prakties uitvoerbaar.
Eintlik is dit agterstevoor om te begin by die opstel van die testament. 'n Testament is die eindproduk van 'n boedelplan wat deel is van jou finansiële beplanning. Alles moet saam 'n logiese geheel vorm, anders skep jy net probleme.
So, waar begin jy dan?
Jy begin deur 'n opname te maak van wat jy het, wat jy nog wil bymekaar maak, wat jy daarmee wil maak gedurende jou lewe en wat jy wil hê daarmee moet gebeur as jy die dag dood is. Dus, wat is jou lewensdoelwitte, hoe bereik en finansier jy hierdie doelwitte, en wat gebeur met jou goed as jy dood is.
Dan kan jy gaan sit en jouself afvra: as ek nou doodgaan, wie moet wat kry uit dit wat ek reeds bymekaargemaak het. Eers dan kan jy begin dink aan hoe jou testament moet lees. Hierdie vraag moet minstens elke twee jaar gevra word, maar vroeër as dit as daar groot veranderinge in jou lewe is, byvoorbeeld 'n huwelik, die geboorte van 'n kind of kleinkind, 'n sterfte in jou familie, die aankoop van 'n huis, ensovoorts.
Oor vryheid, geld en goed
Ons het in Suid-Afrika in teorie 'n hoë mate van vryheid, bekend as testeervryheid, om ons goed in 'n testament te bemaak soos ons goed dink. In die praktyk is daar beperkings.
Dit help nie jy bemaak jou goed soos jy wil, maar daar is te min kontant in jou boedel om laste (belastings ingesluit) en koste te betaal nie. Dan het die eksekuteur van die boedel net een van twee keuses: óf die erfgename moet kontant inbetaal om die motor of die huis of wat ook al te kan erf, óf daardie erfstuk moet verkoop word om voldoende kontant te kry om die laste en koste te dek.
Jou huweliksbedeling speel 'n groot rol. Is julle ingemeenskap van goedere getroud, is net 'n onverdeelde helfte van elke batejoune en kan jy nie eensydig oor die ander helfte beskik nie. Is julle buitegemeenskap van goedere met insluiting van die aanwas getroud, word dieaanwaseis eers afgehandel voor die verdeling volgens die testament gedoen word.
Getroudes (en saamwoners) moet in gedagte hou dat die langslewende van julle moontlik 'n eis teen die oorledene se boedel kan hê onder die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades in omstandighede waar so 'n langslewende gade met onvoldoende inkomste en versorging gelaat is.
Maak seker jou testament is nie een wat 'n hofsaak sal oorleef nie, maar eerder een wat nooit in die hof hoef te gaan draai nie.
Watter sê het testamente oor aftreegeld, trusts en polisse?
Jou aftreevoorsiening wat in 'n pensioen-, voorsorg- of uittredingsannuïteitsfonds gespaar is, word deur die trustees van die aftreefonds verdeel volgens voorskrifte in die Wet op Pensioenfondse. Jy kan begunstigdes benoem, maar die trustees is nie gebonde aan jou benoemings nie.
As jy begunstigdes benoem het vir die opbrengs van jou lewenspolisse, help dit nie om daardie polisse se opbrengs in jou testament te bemaak nie. Die versekeraar sal uitbetaal aan die benoemde begunstigde.
As jy of jou ouers of grootouers 'n trust opgerig het en daar is eiendom (huis, motor, beleggings) in die trust, kan jy gewoonlik nie daaroor in jou testament beskik nie, selfs al is jy 'n begunstigde van die trust.
Maak seker jy en jou testament is op dieselfde bladsy
Oor die goed waaroor jy wel kan beskik, is jou testament al wat oor is om vir jou te praat as jy nie meer daar is nie. Daarom is dit so belangrik dat jou testament logies en korrek bewoord is, sonder teenstrydige bepalings. 'n Komma op die verkeerde plek kan moeilikheid beteken. Die hof mag nie buite die woorde van jou testament na jou bedoeling gaan soek nie. Woorde het betekenis en die verkeerde woorde op die verkeerde plekke in 'n testament kan jou bedoeling verkeerd uitdruk en ondermyn.
Dis goed om 'n eksekuteur vir jou boedel in jou testament te nomineer, anders moet die Meester van die Hooggeregshof een identifiseer na konsultasie met belanghebbendes. Dit neem tyd en tyd is geld. Jou genomineerde eksekuteur moet deur die Meester aangestel word, tensy die persoon nie in staat is om as eksekuteur op te tree nie.
Die waarde van kundigheid
Boedelbeplanning en die opstel van 'n testament is nie die plek om na die goedkoopste opsie te soek nie. Kry die dienste van 'n kundige en maak vrede daarmee dat jy daarvoor sal moet betaal.
Appèlregter Leach het tien of so jare gelede gesê: "Dit is verstommend dat so baie mense staatmaak op onopgeleide adviseurs wanneer dit kom by die opstel van hul testamente - dit terwyl dit waarskynlik een van die belangrikste dokumente is wat hul ooit sal onderteken."
Appèlregter Weiner het ook onlangs die Amerikaanse skrywer, Ambrose Pierce, aangehaal: "Die dood is nie die einde nie. Daar is steeds die hofsaak oor die boedel wat oorbly."
Maak seker jou testament is nie een wat 'n hofsaak sal oorleef nie, maar eerder een wat nooit in die hof hoef te gaan draai nie.
Hoe om 'n testament geldig te onderteken
- In Suid-Afrika moet testamente op papier onderteken word. Die testament kan handgeskrewe of gedruk wees, verkieslik laasgenoemde.
- Die testateur (die persoon wie se testament dit is) moet elke bladsy onderaan onderteken. Op die laaste bladsy moet die handtekening direk onder die einde van die teks wees.
- Die testateur moet teken in teenwoordigheid van twee getuies wat ouer as 14 jaar moet wees en in 'n hof kan getuig.
- Die getuies moet aan die einde van die dokument teken - verkieslik ook elke bladsy.
- Die getuies moet gelyktydig teenwoordig wees as die testateur teken en as hulle die testament onderteken.
- Hoewel dit nie die testament ongeldig maak nie, word getuies tot die testament gediskwalifiseer daarvan om te erf en om as eksekuteur, trustee of voog aangestel te word ingevolge die testament.
- As die testateur nie 'n handtekening kan maak nie, byvoorbeeld as gevolg van 'n gebrek, siekte of ongeletterdheid, kry kundige hulp. Die testateur kan dan 'n merk maak of iemand anders kan namens die testateur teken, maar dit moet deur 'n kommissaris van ede bevestig en gesertifiseer word.
Besoek gerus hul webtuiste vir meer inligting.
Die blad is betaal en die inhoud verskaf deur die adverteerder. Netwerk24 aanvaar geen aanspreeklikheid vir die geadverteerde dienste of produk nie.













