Potbraai-herfskos met varkboud en botterskorsie
Porsies: 6-8 | Bereiding: 15 min. | Gaarmaak: 1 uur 40 min.
Bestanddele:
'n stuk varkboud, ongeveer 1,6 kg (vra die slagter om die vel te keep)
30 ml olie
2 uie, in wiggies gesny
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 dik skyfies vars gemmer
500g geskilde botterskorsie, in skywe gesny
4 aartappels, geskil en in kwarte gesny
125ml (½ k) hoenderaftreksel
125ml (½ k) appelsap (of gebruik meer hoenderaftreksel)
2 droë of vars lourierblare
3 heel naeltjies
30ml (2 eetlepels) gemengde, droë kruie
5 heel peperkorrels
sout en peper na smaak
Metode:
- Verhit die olie in 'n groot swaarboompot en braai die varkboud (met vel en al) daarin tot dit goudbruin is aan al die kante.
- Geur met sout en peper. Verwyder die varkvleis uit die pot en hou eenkant.
- Braai die uie, knoffel en gemmer in dieselfde olie vir 'n paar minute. Voeg die kruie, speserye en groente daarby en braai liggies tot die botterskorsie en aartappels effens begin verkleur. Gebruik meer olie as dit nodig is en geur met sout en peper. Verwyder die botterskorsie en aartappels uit die pot en hou eenkant.
- Sit die stuk varkboud versigtig terug in die kastrol. Voeg 'n bietjie van die vloeistof daarby. Sit die deksel op, bring vinnig tot kookpunt en verlaag weer dit hitte totdat dit stadig pruttel.
- Voeg die hoenderaftreksel en appelsap gereeld in klein hoeveelhede by terwyl die vleis stadig oor lae hitte prut. Sorg dat daar altyd bietjie vloeistof onder in die pot is en draai die stuk varkboud so elke 20 min. om.
- Ná ongeveer een uur 20 min. (of wanneer die stuk vleis amper heeltemal sag is) voeg die aartappels en botterskorsie by die vleis in die pot. Sit die deksel weer op en prut dit oor lae hitte totdat die aartappels sag is.
- Verwyder die lourierblare en peperkorrels, indien verkies. Laat rus die varkboud vir 5 tot 10 min. buitekant die pot voor dit in die dunste moontlike skyfies gesny en saam met die sous en die groente bedien word.
Wenke
- Jy kan voor die tyd die vel van die varkboud afsny en dit in repies of stukkies apart in 'n klein bietjie olie braai om saam met die potbraaistuk as bros krakeling voor te sit.
- Jy kan die appelsap met rooibostee vervang, dit smaak net so heerlik.
- Vir meer sous om saam met die vleis te bedien, voeg bietjie kookwater aan die einde van die kookproses by die sous in die pot, bring dit tot kookpunt en verdik die sous met ‘n pasta van koue water en mielieblom (Maizena). Klits goed om klonte te vermy.











