Die 20ste Suidoosterfees het Woensdag op 'n hoë noot begin met 'n uitstekende musiekkonsert waar feesgangers deur Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, verwelkom is. Feesbesoekers kan nog tot Maandag 1 Mei uitsoekproduksies geniet, van opera, jazz en kabaret tot meesterlike musiekteater.
David Kramer se Ver in die wêreld, Kittie en Coenie de Villiers se Woordmusiek moet beslis nie misgeloop word nie. Kramer se musiekspel word op Sondag 30 April om 17:00 en op Werkersdag om 20:30 in Kunstekaap se kykNET Teater opgevoer. De Villiers is om 17:30, ook op 1 Mei, saam met onder andere Jana Cilliers, Antoinette Kellermann en Vinette Ebrahim op die feesverhoog.
Swaargewigte in die musiekbedryf sluit die 20ste Suidoosterfees op 1 Mei af saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes. In Soomloos word hulde gebring aan prof. Jakes Gerwel, een van die fees se stigterslede. Amanda Strydom, Tarryn Lamb, Lynelle Kenned, Francois van Coke, Emo Adams, Craig Lucas, Early B en Dean Balie tree in dié produksie op wat deur Karen Meiring vervaardig is.

In die jazzkonsert House of Rhythm bring Timothy Moloi, Danie Reënwolf, Marcus Wyatt en Louis Mhlanga saam met die US Jazzorkes hulde aan die sangeres Gloria Bosman wat in dié produksie sou optree, maar onlangs na 'n kort siekbed oorlede is. Under African Skies spog met lede van Johnny Clegg se orkes, ZASHA!. Hulle begelei vir Loyiso Bala, Monde Msutwana, Nomfundo Xaluva en Shaun Johannes.
Emo en Loukmaan Adams tree saam met Jarrad Ricketts, Berry, Quintin Manuels, Tracey Lange en Donvino Prins op in The Big Bash Theory. Sterre van kykNET se Suidooster is ook vanjaar weer op die feesverhoog om hul sangtalent ten toon te stel. Jawaahier Petersen, Eden Classens, Irvine van der Merwe, Natasha van der Merwe, Marco Spaumer, Simone Biscombe en Irshaad Ally gaan feesgangers in vervoering hê.
André Schwartz is ook op 30 April by die fees saam met Coenie de Villiers in Grensloos. Dié twee legendes skuif agter twee klaviere in vir dié spesiale produksie. In die ATKV Koorgala, ook op 30 April, deel die soprane Zanne Stapelberg en Brittany Hope Smith die verhoog met die bariton Conroy Scott, en die gevierde Nina Schumann en Megan-Geoffrey Prins is agter die klaviere. Kurt Haupt dirigeer 'n massakoor wat saamgestel is uit wenkore van die Suidoosterfees en die ATKV se jaarlikse Koorkompetisie.

Ook op klassieke front, bring die Universiteit van Kaapstad se Operaskool-studente Rosini se gewilde L'inganno felice na die Suidoosterfees, onder regie van Christine Crouse. Die wêreldberoemde Stellenbosch Universiteitskoor onder leiding van André van der Merwe, is op 1 Mei om 20:30 op die Operahuis-verhoog.
Die Jakes Gerwel-stigting ondersteun opkomende sangers en musikante onder leiding van Frazer Barry in Diamonds in the Dust. Jonathan Rubain tree op in Dankie, 'n geestelike musiekproduksie saam met Elwira Standili, Anslin Gysman, Farren Cloete, Jodi Jantjies, Reggie B en The Messengers.
Klik hier vir die volledige feesprogram; bespreek by Computicket of Kunstekaap Bel-'n-Sitplek by 021 421 7695.
Die Suidoosterfees word ondersteun deur die departement van sport, kuns en kultuur; die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport; Stad Kaapstad; Media24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Kunstekaap.













