

"Dienslewering word in die openbare lewe in ‘n baie negatiewe lig beskou, maar moet meer positief gesien word: as nog ‘n tree in die proses om ons demokrasie uit te bou," sê Andries Nel, adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake.
"Ons vergeet dikwels dat ons demokrasie net 23 jaar oud is. Sedert 1994 moes ons ‘n nuwe werklikheid bedink. Die reëls sal nog voortdurend gedefinieer word. Ek dink nie dit is ooit bedoel om letter vir letter aangeneem te word nie - ons moet gestalte gee aan die gees van die wet, eerder as die letter van die wet. Sedert 2014 het ons ‘n ‘terug-na-die-basiese'-benadering begin volg. Ná ‘n ontleding van al ons munisipaliteite - en met die oog op ‘n wye reeks kwessies - het ons ontdek ‘n derde van ons munisipaliteite vaar goed, ‘n derde vaar so-so en ‘n derde vaar glad nie goed nie.
"Die benadering van ‘terug-na-die-basiese' beteken ons plaas mense eerste, spits ons toe op dienslewering, pas goeie finansiële bestuur toe en beklemtoon openbare deelname. Ons bou wykkomitees wat goed funksioneer, maar ons los nie die strukture daarna om alleen voort te sukkel nie - hulle moet ten volle by die werkinge van die munisipaliteit ingeskakel word.
"Soms bevind raadslede hulle in ‘n moeilike posisie en kan hulle nie kwessies aan hul gemeenskappe verduidelik nie. Die polisie het dié kwessie met ons opgeneem - dat daar dikwels van hulle verwag word om die gesig van die regering te wees. Hulle patrolleer betogings, ontvang petisies, oorhandig dit aan ons en niks word gedoen nie. Dan moet hulle weer uitgaan en ‘n woedende gemeenskap, wat verontreg voel, in die gesig staar."
Waarom toesig noodsaaklik is
Dit kan vergelyk word met ‘n eend wat in ‘n meer swem: Al die moeite vind onder die water plaas. Die gladde funksionering van ‘n munisipale raad hang bykans uitsluitlik af van die nakoming van die reëls, openbare aanspreeklikheid en toesig. Met ons robuuste demokrasie is daar dikwels ‘n stryd tussen die politici in die raad. Daarby kan onervare raadslede die pad byster raak en die bedreiging van korrupsie is alomteenwoordig.
"Die speaker het geweldige mag om besluite te bekragtig en die integriteit van die hele raad in stand te hou. Vryheid van spraak is ‘n baie belangrike deel van politieke redevoering en die speaker maak seker dat die reg tot vryheid van spraak beskerm word. Dit beteken ook raadslede wat in raadsvergaderings praat, moet nie beledig of onnodig onderbreek word nie, en dat orde gehandhaaf moet word."

Professor Jaap de Visser, direkteur van die Dullah Omar-instituut aan die Universiteit van die Wes-Kaap, sê: "Die mooiste ding van plaaslike regering is dat rade ‘n taamlike hoeveelheid diskresie gegee is om hul eie strukture te ontwerp. Volgens die raad kan bykomende rolle aan die speaker gegee word, soos om toesig oor wykkomitees te hou, om met tradisionele owerhede te skakel en om openbare deelname te bevorder.
"Die speaker het ook met tyd ‘n groter rol in toesig ontwikkel en toesig is noodsaaklik. Vir die eerste dekade van ons demokrasie het ons nie genoeg aandag aan toesig geskenk nie.
Daar is twee wanindrukke oor toesig. Eerstens, toesig is nie vir die opposisie gereserveer nie - dit is die verantwoordelikheid van elke enkele raadslid. Tweedens, toesig is nie slegs gemik op die oopvlek van korrupsie nie - dit is baie meer as dit. Dit verg die opvolg van besluite en die opvolg van implementering. Die speaker se werk is om raadslede met navorsing en hulpbronne te bemagtig sodat hulle dié toesigrol kan uitvoer.













