Promosie

Red só jou aftrede

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Soos menige mense van my generasie (die sogenaamde Baby Boomers) het ek vanuit die staanspoor toe ek baie dekades gelede begin werk het, elke maand 'n ekstra geldjie weggesit wat sou dien as aanvulling van my pensioen die dag dat ek uiteindelik sou aftree.

Elke maand, vir baie jare, het ek 'n paar rand weggesit in twee uittree-annuïteite (UA), een elk by twee van die grootste lewensversekeraars - die Bloue en die Groene.

Vir jare het ek maar vergeet van die klein debietorders wat elke jaar verhoog is, in lyn met die inflasiekoers.

Sit nou al geld weg vir jou aftrede en sien hoe jy later die vrugte pluk. Foto: ISTOCK
Sit nou al geld weg vir jou aftrede en sien hoe jy later die vrugte pluk. Foto: ISTOCK

Hierdie proses was gebou op hoop (dat ek baie geld sal maak) en vertroue (ek het staatgemaak op die integriteit van die twee maatskappye).

In daardie jare was daar glad nie die openhartigheid en beskikbaarheidstelling van prestasie, fooie en allerhande reëls van UA-fondse soos dit vandag heers nie. Beleggers het bitter min terugvoering gekry (miskien een keer per jaar) en daar was geen internet om te gaan kyk hoeveel die produk jou gekos het nie. Ook was daar nie veel keuse oor onderliggende portefeuljes nie: Dit was óf 'n gebalanseerde fonds óf 'n reversionêre bonusfonds.

En as jy die termyn verbreek het deur te vroeg jou geld te onttrek, was daar allerhande boetes wat - hoewel dit intussentyd verminder het - vandag steeds geld.

Soos die tyd aangestap het, het die media meer en meer indringende vrae gevra oor hierdie toksiese produkte. Opbrengste was karig, koste was hoog en enige reële groei was amper toevallig.

Selfs nadat ek ander beleggings begin maak het in ander, baie meer deursigtige produkte soos effektetrusts, beursverhandelde fondse en indeks-navolgers, het ek maar voortgegaan met die debietorders vir die twee UA's, bloot uit nuuskierigheid om te sien hoe hulle vaar.

Jaar ná jaar het ek gesien dat die opbrengs van tussen 2 tot 5% per jaar heelwat afsteek teen die opbrengste op die ander produkte, en die afgelope tien jaar en meer veral teenoor buitelandse fondse.

Tot hiertoe en nie verder

Sowat vyf jaar gelede besluit ek toe tot hiertoe en nie verder nie en ek doen aansoek om die twee produkte te gelde te maak en in een lewende annuïteit (LA) saam te smelt. Toe skielik kry ek reaksie met sulke mooi briewe oor watter skade ek aan my aftreeplan doen en dat ek goed daaroor moet dink, ensovoorts, ensovoorts.

Ek skuif toe die gelde na die Ninety One-platform (voorheen Investec Batebestuur), waar ek 'n wye keuse van fondse gehad het, selfs 100% buitelandse fondse, indien ek dit so verkies het. Wat ek toe gedoen het.

Met die nuwe vryheid van keuse (letterlik honderde fondse) het ek toe begin baljaar onder die wonderlike fondse wat tot my beskikking was. My aanvanklike keuses was die IP Global Opportunity-fonds van Tony Bell en ook die Ninety One Global Franchise-fonds. Later, toe ek oortuig geraak het van die wonderlike opbrengste wat die Vierde Nywerheidsrevolusie kan bied, het ek alles oorgeswaai na die Sygnia 4th Industrial Revolution-fonds, waar dit tans steeds is.

Dis nie in hul belang nie, so hulle swyg soos die graf hieroor.

Met 'n LA moet jy 'n inkomste trek, wat ek wel gedoen het teen 10% per jaar. Dit kan so laag as 2,5% en so hoog as 17,5% per jaar wees.

Die saamgestelde bedrag uit die twee UA'e was R450 000 met die aanvang van die belegging in Mei 2016. Onttrekkings oor die vier jaar sedertdien was R223 000 (die 10% word bereken op die kapitale bedrag op die "verjaarsdag" van die belegging) en verlede week was die waarde 'n verstommende R828 000 . . . 'n saamgestelde groeikoers van 33% per jaar.

Toleransie vir risiko

Nou moet ek dadelik hier stop en waarsku: My toleransie vir risiko is heel waarskynlik hoër as die meeste beleggers s'n. Tweedens: Geluk het ook hier 'n rol gespeel, want selfs in my wildste drome kon ek nie voorsien het dat die Sygnia 4th IR-fonds die afgelope 12 maande 'n opbrengs van meer as 62% sou behaal nie. Sulke fondse is ook geneig om skielik en skerp te daal, wat trouens al gebeur het.

Dit doen egter geensins afbreuk aan die onderliggende boodskap nie. Beleggers ouer as 55, wat die keuse het om geld vanuit UA's en alle bewaringsfondse te onttrek, kan en moet sterk daaraan dink om dit te doen en dit oor te dra na 'n LA (ná die onttrekking van die een derde wat toegelaat word).

Een van die grootste redes hiervoor is dat Regulasie 28 van die Pensioenewet 'n beperking van 30% plaas op buitelandse blootstelling binne hierdie fondse. LA'e, daarenteen, is nie onderworpe aan hierdie regulasie nie. Snaaks, maar waar.

As gevolg van hierdie beperking het die meeste aftreefondse (pensioene, UA'e en bewaringsfondse) die afgelope sewe jaar weinig hond haaraf gemaak teen die inflasiekoers.

Ek sien ook gereeld state waar beleggers feitlik geen groei in nominale terme oor een, drie, vyf en selfs sewe jaar gehad het nie.

Regulasie 28 word tans ondersoek ten einde dit vir versekeraars en batebestuurders moontlik te maak om groter toegang tot beleggings in infrastruktuur te kan maak. 'n Mens moet wonder watter effek hierdie verandering op die opbrengs van pensioenfondse in die toekoms sal maak.

Verskeie groot versekeraars en batebestuurders hou glad nie van hierdie advies nie, want dit beteken (a) 'n onttrekking van minstens een derde van die kapitaal onder hul bestuur en (b) die kans dat die gelde na goedkoper en meer innoverende beleggingsplatforms geskuif sal word, wat weliswaar op groot skaal in die bedryf plaasvind. En dan is daar ook die bykomende vrees dat die gelde in buitelandse fondse belê sal word, wat 'n verlies aan bestuursgelde verteenwoordig.

Opbrengste was karig, koste was hoog en enige reële groei was amper toevallig.

In kort: Hierdie advies sal jy nie sommer hoor of lees vanuit die geledere van groot batebestuurders nie.

Dis nie in hul belang nie, so hulle swyg soos die graf hieroor. Myns insiens behoort alle beleggers ouer as 55 met geld in UA'e, en enige ander vorms van pensioen of bewaringsfondse, dit baie sterk te oorweeg om (a) belastingvrye of gedeeltelik belastingvrye gelde te onttrek en (b) die twee-derde balans te skuif na 'n LA waar moontlik, selfs al is dit nog nie tyd vir amptelike aftrede nie.

Tans is die belastingvrye gedeelte 'n maksimum van R500 000 wat eenmalig vir alle beleggers geld. Hierdie bedrag staan reeds amper 10 jaar op hierdie vlak, wat in reële terme beteken dat die voordeel daarvan elke jaar met die inflasiekoers verminder. So, hoe gouer die belastingvrye gedeelte onttrek kan word ten einde dit op 'n ander plek te belê (soos skuld afbetaal of in 'n diskresionêre portefeulje), hoe beter.

Die balans word dan oorgedra na 'n LA waar beleggers kan kus en keur uit 'n magdom plaaslike en oorsese fondse, tot en met 100% buitelandse blootstelling indien dit verkies word.

Jy kan dit enige tyd skuif van die een fonds na 'n ander - op grond van prestasie of koste - sonder enige koste of belastingimplikasies. Ook iets waarvan die tradisionele versekeraars niks hou nie.

Die enigste klein nadeel is dat 'n inkomste onttrek móét word - tussen 2,5% en 17,5% van die kapitaal per jaar. Maar selfs dit kan teengewerk word deur weer 'n UA uit te neem, wat dan in die daaropvolgende belastingjaar oorgeswaai kan word na die LA.

Moenie skrik as die verjaardagkoek met 55 kerse nie aangedra word nie. Dit kan die begin wees van aftree-vryheid wanneer dit kom by baie soorte tradisionele beleggingsprodukte.

  • Magnus Heystek is 'n beleggingstrateeg by Brenthurst Wealth, SA se top-boetiekwelvaartbestuurder vir 2017 en 2020. Navrae kan gerig word aan invest@brenthurstwealth.co.za.
Magnus Heystek

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM