Is jy nou al dik geëet aan jou plaaslike supermark se gebakte lekkernye? Doen jouself dan 'n guns en raak in jou eie kombuis kreatief met die mengbak en houtlepel.
Sidrah Hamid, bakster en eienaar van Baking Beyond Limits, deel haar smullekker bak-en-brou-idees vir Paasfees!

Vanielje-en-grenadella-kolwyntjies
Bestanddele
- 125 g botter
- 430 g koekmeel
- 3 teelepels bakpoeier
- 265 g suiker
- ½ teelepel sout
- 375 ml melk
- 125 ml olie
- 1 teelepel vanieljegeursel of -pasta
- 3 groot eiers
- 2 eetlepels dik jogurt
Metode
Sif die droë bestanddele saam, voeg botter by en klits goed tot die mengsel soos broodkrummels lyk.
Voeg die nat bestanddele by en klits deeglik. Skraap die kante van die bak en klits weer.
Die beslag sal 'n bietjie loperig lyk, maar dit moet so wees, solank jy die kante van die bak afgeskraap en alles goed gemeng het.
Neem nou jou kolwyntjiebakkies en skep 'n roomyslepel vol beslag in elkeen.
Bak die kolwyntjies vir 10 tot 15 minute teen 180 °C.
Gebruik 'n sosatiestokkie om te toets of die deeg gaar is. As dit skoon uitkom, is die kolwyntjies gereed.
Grenadellaversiersel
Bestanddele
- 185 g botter
- 285 g versiersuiker
- ½ teelepel grenadellageursel (as jy meer benodig, voeg dit by, maar moenie te veel gebruik nie
- 230 g roomkaas
- Houertjie grenadellamoes
- Pers jelkleursel
Metode
Meng die botter en versiersuiker goed saam en voeg dan die roomkaas en grenadellageursel by. Meng alles lekker deur tot glad en romerig.
Verdeel die versiersel tussen twee bakke en kleur die een helfte pers. Maak seker dat jy stadig met die kleur te werk gaan, anders kom dit dalk te donker uit.
Wanneer jy die gewenste kleur het, skep die ongekleurde versiersel by die gekleurde mengsel.
Skep die versiersel in 'n spuitsak met die spuitstuk wat jy verkies.
Versier nou die afgekoelde kolwyntjies met 'n draai-metode (soos wat 'n draairoomys lyk) en rond dit af met die grenadellamoes en eetbare goue glinsterstof vir 'n bietjie flair.

Sjokoladekoeklollies
Bestanddele
- 8 sjokoladekolwyntjies
- 5 eetlepels sjokoladeversiersel
- 1 eetlepel karamelgeursel
- 1 kg spysenierssjokolade, gesmelt
- 6 roomysstokkies
- Koeklollie-vormpies
Metode
Verwyder die kolwyntjies uit die verpakking. Breek in stukkies in 'n bak en voeg sjokoladeversiersel en karamelgeursel by.
Meng alles goed met jou hande en maak doodseker dat daar geen klonte is nie. Onthou dat die eindproduk gevorm moet kan word, dus moet alles lekker bymekaar kom.
Volg nou die volgende stappe:
Neem jou sjokoladekoekmengsel en skep dit in die koeklollie-vormpies. Maak seker dat alles goed platgedruk is teen die rand van die vorm.
Neem nou 'n roomysstokkie en druk dit halfpad in gesmelte sjokolade. Druk die stokkie sagkens in die koeklollie-vorm en maak seker dat jy in die helfte van die vormpie stop.
Plaas dan die vorm in die yskas vir vier tot vyf ure of oornag. Maak seker dat dit deeglik verkoel is.
Smelt nog sjokolade en skep dit in 'n lang glas of beker. Jy kan ook enige kleur poeier gebruik om jou sjokolade te kleur.
Haal nou die vormpies uit die yskas en verwyder die koeklollies uit die vorms.
Doop die lollies in die sjokolade. Jy kan dit twee tot drie keer doen totdat elkeen heeltemal met sjokolade bedek is.
As jy tevrede is met hoe dit lyk, plaas die lollies op bakpapier en versier soos jy verkies.
WENKE
* Moenie jou koeklollies in vuurwarm sjokolade doop nie, want dan kan dit dalk breek.
* Moenie die lollies vries nadat dit in sjokolade gedoop is nie, los dit op die bakplaat. As dit gevries word, sal dit krake in die sjokolade veroorsaak.
Paasfees-suikerkoekies
Bestanddele
- 200 g gesoute botter
- 230 g strooisuiker
- 1 groot eier
- 450 g meel
- ½ koppie mielieblom
Metode
Voorverhit die oond tot 160 °C.
Meng die botter, suiker en eier goed saam en voeg geursel van jou keuse by. Voeg dan gesifte meel en mielieblom by.
Meng al die bestanddele goed saam om 'n ronde bal deeg te vorm, bedek met kleefplastiek en verkoel in die yskas vir 30 minute tot 'n uur.
Haal die deeg uit die yskas, rol dit uit en gebruik koekiedrukkers om jou koekies te vorm.
Pak dit op 'n bakplaat en bak dit vir 8 tot 10 minute tot goudbruin.
Haal die gaar koekies uit en die oond en laat dit heeltemal afkoel.
Versier nou die koekies. Jy kan dit byvoorbeeld in gesmelte sjokolade doop en met sprinkels versier.
Hierdie koekies werk ook goed as 'n teetyd-beskuitjie.

Wenke
* Die mielieblom gee die koekies ekstra brosheid. Om die deeg toe te draai en in die yskas te verkoel, is 'n belangrike stap, moenie dit uitlaat nie.
* As jy die koekies met Royal-versiersuiker wil versier, is dit beter om dit 'n dag voor die tyd te bak en dit dan te versier.
Tower 12 Turkse lekker-kolwyntjies op
Bestanddele
- 115 g sagte botter
- 120 g strooisuiker
- 3 geklitste eiers
- 120 g bruismeel
- 2 eetlepels melk
- 2 eetlepels dik jogurt
- 1 eetlepel rooswater
- 1 teelepel roosgeursel
- Pienk jelkleursel
- Turkse lekkers
Metode
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer solank 'n kolwyntjiepannetjie wat 12 kolwyntjies sal oplewer.
Room die botter en strooisuiker saam tot lig en donserig. Klits dan een eier op 'n slag by. Sif die bruismeel by en gebruik 'n metaallepel om die melk en jogurt by te meng. Voeg ook die pienk jelkleursel en roosgeursel by.
Skep die mengsel in die kolwyntjiepannetjie en bak in die voorverhitte oond vir 15 tot 20 minute. Gebruik 'n sosatiestokkie om te toets of dit gaar is. Haal die kolwyntjies uit die oond, keer dit uit op 'n draadrak en laat dit afkoel.
Versiersel
Bestanddele
- 185 g sagte ongesoute botter
- 320 g versiersuiker
- 230 roomkaas
- 1 teelepel roosgeursel
- Pienk jelkleursel
Metode
Plaas die botter, roosgeursel en gesifte versiersuiker in 'n bak en klits deeglik met 'n elektriese klitser. Voeg dan die roomkaas en pienk jelkleursel by en meng goed deur.
Wanneer die kolwyntjies afgekoel het, versier dit met die versiersel. Rond dit af met fyngekapte Turkse lekkers.












