Promosie

Springlewendige ouwingerdwyne

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lötter Cinsault wingerd in Franschhoek wat in 1932 geplant is.
Lötter Cinsault wingerd in Franschhoek wat in 1932 geplant is.

Jy weet dalk al dat rooiwyne al hoe beter smaak soos dit verouder, maar het jy geweet ou wingerde maak 'n wyn net so goed? Hier is 'n paar ouwingerdwyne wat jy deel van jou wynversameling kan maak:

Perdeberg The Dry Land Collection Courageous Barrel Fermented Chenin Blanc 2022 teen R160

Sitrus, peer, perske en pynappel is slegs 'n paar van die vrugtegeure wat in hierdie aromatiese wyn voorkom. Op die palet kry jy sitrus-, lietsjie- en vanieljegeure, kraakvars afgerond met goeie suurheid. Dié wyn paar goed met seekosgeregte, geurige hoenderkerrie en ryk kase. Dit word gemaak van druiwe uit 'n gesertifiseerde erfeniswingerd wat in 1985 in die Paarl-omgewing aangeplant is. Koop dit by Perdeberg se kelder in die Paarl of aanlyn.

Perdeberg The Vineyard Collection Cap Classique Chenin Blanc teen R160

Hierdie vonkelwyn is groen van kleur met groen peer, Granny Smith-appels, lemmetjie en pomelo's op die neus. Daar's 'n vars mineraliteit in die mond, afgerond deur die smaak van beskuitjies. Bedien dit goed verkoel as 'n aptytwekker of paar dit saam met oesters of vars seekosgeregte. Die Vineyard Collection Cap Classique Chenin Blanc word gemaak van druiwe uit 'n gesertifiseerde erfeniswingerd wat in 1977 in die Paarl-omgewing aangeplant is. Dit is een van baie min gesertifiseerde chenin-vonkelwyne. Beskikbaar by die kelderdeur of aanlyn.

Terre Paisible Les Dames de '87 Old Vines Sauvignon Blanc 2022 teen R285

Wynmeester Greg Sherwood beskou dié wyn as een van die opwindendste nuwe sauvignon blancs uit Suid-Afrika. Ryp Starking-appel en dun gesnyde komkommer skemer deur op die delikate palet, gebalanseer deur 'n fluweelsagte nasmaak. Hierdie wyn, wat van 35 jaar oue wingerde geoes is, gee uitdrukking aan die ryp tropiese vrugtespektrum van die variëteit, wat pynappel- en nektarien-geure vertoon. Vir meer inligting oor die wyn of om dit aanlyn te koop, besoek hul webtuiste.

Koelenhof Stellenbosch 1679 Single Vineyard Old Vine Pinotage 2020 teen R375 per bottel

Hierdie 2020-oesjaar Old Vine Pinotage is gemaak van sorgvuldig uitgesoekte druiwe uit 'n 45 jaar oue enkelwingerd op die plaas Skoonheid in Stellenbosch. Die wyn is 'n elegante samevatting van vars kersies, rooi vrugte en 'n sweempie speserye, afgerond met 'n tikkie mokka. Die Winemag Prescient Report 2023 het dit onder sy top-10-pinotage-wyne gelys. Vir meer inligting, besoek gerus hul webtuiste.

Simonsig Langbult Steen Old Vine Chenin Blanc teen R235

Drie generasies Malans van Simonsig het omgesien na die enkelwingerd waar Langbult Steen gebore is. Intieme kennis van die grond en vyf dekades se geskiedenis met chenin blanc het uiting gegee aan hierdie komplekse vat-gegiste wyn. Ontdek die ware gees van 'n Stellenbosch Steen! Geniet die wyn terwyl dit nog jonk is of laat dit vir vyf tot agt jaar verouder om die ongelooflike ontwikkelingspotensiaal daarvan te ervaar. Beskikbaar by Simonsig se aanlyn winkel of by hul proelokaal.

Knorhoek Old Vine Chenin Blanc teen R180

Dié chenin blanc is die toonbeeld van kuns en karakter. Die wingerd is in 1980 aangeplant en elke druiwestok is vandag 'n meesterstuk met sy eie unieke karakter. Vanwaar dit knus teen die hange van die Simonsberg in Stellenbosch se Knorhoek-vallei groei, vertel die ou chenin blanc-wingerd 'n aangrypende verhaal van harmonieus verweefde geskiedenis, vakmanskap en terroir. Knorhoek Old Vine Chenin Blanc is 'n ikoniese wyn wat voortbou op die Knorhoek-erfenis sedert 1694. Besoek gerus hul webtuiste.

Kleine Zalze Vineyard Selection Chenin Blanc 2022 teen R148

Die druiwe kom van wingerde ouer as 35 jaar in die Stellenbosch-omgewing. Dit is vroegoggend met die hand geoes, gepars en vir 'n dag dopkontak gegee om al die chenin-geure te onttrek en goeie struktuur te verseker. Slegs die vryloopsap is in vate en terracottakruike getap vir gisting, en verouder op die primêre moer vir sewe maande voor bottelering. Geure van spanspek, wit perske, amandelbloeisel en 'n sweempie mineraliteit dra by tot 'n elegante wyn. Dit is subtiel gehout vir 'n romerige tekstuur op die middelpalet met 'n vars nasmaak. Koop joune aanlyn.

Kleine Zalze Family Reserve Chenin Blanc 2022 teen R270

Drie ou wingerdblokke wat tussen 1977 en 1987 in Stellenbosch aangeplant is, dra elkeen by tot die kompleksiteit van hierdie wyn. Die druiwe is afsonderlik tussen 21 en 23 grade balling gepluk, in klein hoeveelhede gepars en die sap vir 18 uur op die doppe gelos voor gisting en veroudering in Franse eikehoutvate, Italiaanse terracottakruike en beton-"eiers". Die wyn het 'n verdere agt maande op die moer verouder voor bottelering. Verwag 'n delikate blommegeur tesame met perske en sitrus, asook goeie mineraliteit en 'n komplekse nasmaak. Koop dié wyn aanlyn.

Stettyn Shackleton Old Vine Chenin Blanc teen R285

Die geheim van dié besonderse wyn is dat daar tydens die produksieproses 'n tydperk van na-fermentasie toegelaat word. Dit behels kontak tussen die wyn en gistingafsaksel in tweede gevulde Franse eikehoutvate vir agt maande. Die eindproduk is 'n strooikleurige wyn met kweper en steenvrugte op die neus, afgerond deur goed gebalanseerde tekstuur op die palet. Met hierdie wyn gedenk Stettyn die dag toe 'n Shackleton MR.3 1718 op 8 Augustus 1963 in Stettynkloof neergestort het. Dit is aanlyn of by die proelokaal, R43, Villiersdorp/Worcester, te koop.

Springfield Thunderchild Red Blend teen R108

Die Robertson-gemeenskap het destyds Die Herberg-kinderhuis op die been gebring om na behoeftige kinders uit gebroke gesinne om te sien. In 2003 het hulle teen geen koste 'n wingerd van 5 ha op die perseel aangeplant. 'n Hartlike versnit (34% cabernet franc, 33% cabernet sauvignon en 33% merlot) word deur barmhartige kelders gemaak en verkoop om hierdie kinders te ondersteun. Elke druif en wins bevoordeel hul jong lewens. Die wyn is ook in 'n spesiale kissie beskikbaar teen R648, of koop dit aanlyn.

Die blad is betaal en die inhoud verskaf deur die adverteerders. Netwerk24 aanvaar geen aanspreeklikheid vir die geadverteerde dienste of produk nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM