
Dis maar nog net drie weke sedert Stevens Mokgalapa van die DA burgemeester van die Tshwane-metroraad geword het, maar hy het reeds drie streke in dié metro besoek.
Mokgalapa het dit uit die staanspoor duidelik gemaak dat sy hoofdoel is om dienslewering aan die stad se inwoners te lewer.
Hy het in die omgewing van Bronkhorstspruit en Cullinan besoek afgelê by 'n vervalle sportstadion en die perseel waar 'n kliniek en biblioteek nog geopen moet word. Mokgalapa het rommel opgetel en straatligte laat regmaak.
Die één saak waaroor die meeste inwoners hom konfronteer wanneer hy hulle ontmoet, is diensterekenings. Die stad het reeds sommige skuld afgeskryf en permanente meterlesers aangestel.
Mokgalapa het tydens besoeke aan plattelandse streke, waar mense van mynbou en landbou afhanklik is vir 'n inkomste, gevind dat die grootste kwessies wat dié inwoners bekommer, 'n gebrek is aan basiese dienste soos water, sanitasie en ook werkloosheid.
Hy sê die metroraad het reeds watertenks en mobiele toilette aan inwoners van informele nedersettings beskikbaar gestel. "Dit gaan tyd neem om elektrisiteit aan te lê," sê Mokgalapa.
In uitbreiding 10 van Refilwe het die metroraad HOP-huise gebou en die nabygeleë myn gevra om elektrisiteit vir inwoners aan te lê. 'n Reservoir word ook hier gebou. Die burgemeester sê hy het planne om verbeterings in Industria in Bronkhorstspruit aan te bring, omdat dié gebied voorheen aan verskeie mense werk verskaf het.
"Ons het 'n openbare vergadering in Zithobeni gehou en met die plaaslike landbougemeenskap gereël om die gebied te ontwikkel. Fondse is hiervoor beskikbaar gestel," sê Mokgalapa. Om die stadion in Ekangala te herstel, gaan R10 miljoen kos.
Ons het daarin geslaag om grondbesettings te voorkom en het ook gereël dat drie informele nedersettings geformaliseer word.
"Ons het daarin geslaag om grondbesettings te voorkom en het ook gereël dat drie informele nedersettings geformaliseer word."
Volgens Mokgalapa bly vandalisme een van die grootste probleme in die metro.












