Insette word ingewag vir volgende jaar se aanpassing van die nasionale minimum loon.
Die Nasionale Minimumloonkommissie het belanghebbendes genooi om voorleggings te doen oor met hoeveel die loon volgende jaar moet styg.
Ná voorleggings lê die kommissie einde vanjaar sy aanbevelings aan Nomakhosazana Meth, minister van indiensneming en arbeid, voor, en die nuwe minimum loon behoort in Maart van krag te word.
Prof. Imraan Valodia, voorsitter van die kommissie, het in 'n verklaring gesê geskrewe voorleggings sal na die minister gestuur word saam met die verslag van die kommissie.
Die sluitingsdatum vir geskrewe kommentaar of voorleggings is 30 September.
Die huidige nasionale minimum loon is sedert Maart R27,58 per uur. Dit geld ook plaas- en huiswerkers. Slegs ondernemings wat vrystelling ontvang het van die minimum loon, mag minder as dit betaal.
Die minimum loon is die laaste paar jaar met meer as die heersende inflasiekoers verhoog, wat skerp kritiek ontlok het van onder meer landbou-organisasies.
'n Nasionale minimum loon geld sedert 2018.
Geskrewe insette kan gestuur word aan: Direktoraat: Indiensnemingstandaarde, Departement van Arbeid en Indiensneming, Privaatsak X117, Pretoria 0001, of dit kan per e-pos gerig word aan nmwreview@labour.gov.za.












