Die stormloop vir poste wat die koalisies op plaaslike regeringsvlak ten koste van dienslewering beduiwel het, moet vermy word.
Cosatu het dié waarskuwing in 'n verklaring gerig en gesê dit is noodsaaklik dat die regering van nasionale eenheid (RNE) op progressiewe beginsels geskoei moet wees met die opheffing van die werkersklas wat voorkeur moet kry.
Ook van kernbelang is dat die RNE stabiel is en op samewerking fokus, met die Grondwet en die oppergesag van die reg wat die hoekstene hiervan vorm.
Cosatu vra dat die regte van werkers gerespekteer word en verligting aan armes en werkloses gebied word. Die stryd teen misdaad en korrupsie en die vernuwing van die nasie moet ook versnel word.
Gesprekke in die driepartyalliansie en onder die verkose partye moet volgens Cosatu fokus op die beskerming van die land se progressiewe beginsels. Dit is ook van uiterste belang dat maatreëls in plek moet wees om die stabiliteit van die RNE te verseker.
Gesprekke is reeds intern gevoer oor hoe die vakverbond dink die nuwe regering "onder leiding van pres. Cyril Ramaphosa en die ANC" saamgestel moet word.
Cosatu sien uit na gesprekke met die ANC en die SAKP in die komende dae sodat hulle gesamentlik 'n verenigde pad vir die toekoms aanpak.
Suid-Afrika en veral die werkersklas het te kampe met die moeilikste uitdagings sedert die totstandkoming van die demokrasie in 1994. Die uitdagings verg "besliste leierskap, politieke volwassenheid en nugterheid".
Cosatu sê voorts hy is lankal reeds 'n voorstander daarvan dat maatskaplike vennootskappe gevorm word "sodat daar binne die demokratiese staat aandag geskenk word aan die vele maatskaplik-ekonomiese uitdagings wat die werkersklas en die nasie raak".












