Sake

Hoofekonoom van die Reserwebank tree vroeg af

Die Reserwebank-gebou in Pretoria.
Die Reserwebank-gebou in Pretoria. (Foto: Alet Pretorius)

Christopher Loewald, hoofekonoom van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, gaan vroeg aftree.

Loewald, wat sedert 2019 ook ’n lid van die monetêrebeleidskomitee was, se loopbaan strek oor 30 jaar heen.

“Hy het as hoofekonoom die Reserwebank se ekonomiese navorsingsafdeling gelei, wat verantwoordelik is vir vooruitskattings, globale ekonomiese ontleding, navorsing verwant aan klimaatsverandering en beleidsontwikkeling,” sê die Reserwebank in ’n verklaring.

“Hy het ook ’n belangrike rol gespeel in Suid-Afrika se G20-presidentskappe in 2007 en 2025, deur vennootskappe met globale en plaaslike instellings uit te brei en die bevordering van monetêrebeleid-hervorming.”

Hy het in 2011 by die Reserwebank aangesluit nadat hy 13 jaar by die nasionale tesourie gewerk het waar hy verantwoordelik was vir die ontwikkeling van Suid-Afrika se makro-ekonomiese beleid. Hy het ook op gesamentlike komitees van die Reserwebank en die tesourie gedien om beleidskoördinering te fasiliteer.

Hy was die hoof van internasionale ekonomie, asook adjunk-direkteur-generaal van ekonomiese beleid by die tesourie, waar hy gewerk het aan Suid-Afrika se internasionale ekonomiese beleidsverbintenisse en kwessies van ekonomiese groei en bestuur.

“Die Reserwebank-familie spreek sy dankbaarheid uit teenoor dr. Loewald vir sy 15 jaar van toegewyde diens aan die instelling en wens hom alle voorspoed toe.”

Sy ses maande lange afkoeltydperk sal op 1 Maart begin. Die proses om sy opvolger aan te stel, is tans aan die gang.

CTA