Die man agter die Wyn van Oorsprong-skema, Dawid Saayman, is verlede maand in die ouderdom van 80 oorlede nadat hy 'n leeftyd van kundigheid aan die bedryf gewy het.
Saayman is op 29 Junie 2025 in Stellenbosch oorlede en het 'n loopbaan van 50 jaar in die bedryf gehad waartydens hy baanbrekerswerk gedoen het op die gebied van navorsing, opleiding en mentorskap.
Sy reis het reeds tydens sy studentejare begin met dié grondwetenskaplike wat in 1966 sy BSc (Agric)-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het. Hy het vir sy graad op grondwetenskap en chemie gefokus.
Saayman het in sy werk as grondwetenskaplike in wingerd- en wynbou gespesialiseer en is veral bekend vir sy werk om die konsep van Suid-Afrikaanse terroir te definieer.
Hy het 'n sentrale rol gespeel in die identifisering en begrip van geologie, grondtipes en klimaat in die Wyn van Oorsprong-skema.
Die skema stel wynmakers in staat om unieke wyne wat die natuurlike faktore in hul spesifieke streke weerspieël, te maak.
Saayman se kundigheid geniet ook internasionale aansien met sy bydraes in 28 wetenskaplike en 39 ander publikasies.
Hy is ook verlede jaar in die kategorie vir wingerd- en wynbou tydens die jaarlikse Wynoesherdenking vereer.








