Danksy ’n groot belegging kan navorsing deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Leerstoel in Plantgesondheid voortgaan om verskeie landbou-uitdagings aan te spreek.
WinField United South Africa (WUSA) het onlangs sy vennootskap met die Leerstoel in Plantgesondheid vir ’n derde driejaar-termyn hernu met ’n belegging van meer as R24,5 miljoen om Suid-Afrikaanse landboukundiges op te lei om onmiddellik waarde op plaas- en bedryfsvlak toe te voeg.
Jan Vermaak, uitvoerende hoof van WUSA, verduidelik in ’n verklaring die belang van hierdie vennootskap: “Langtermyn-volhoubaarheid in landbou word nie met korttermyn-oplossings gebou nie. Hierdie leerstoel verg doelbewuste beleggings in kennis, mense en onafhanklike navorsing wat oor seisoene heen waarde toevoeg. Op grondvlak beteken dit dat ons akademiese navorsing uit die teorie lig en direk aan praktiese vraagstukke in die bedryf koppel.”
Volens prof. Nick Kotzé, van die departement van agronomie aan die US, lê die waarde van die leerstoel daarin dat navorsing nie in isolasie plaasvind nie.
“Ons werk nie met teoretiese oefeninge wat net op kampus sin maak nie. As ’n projek nie ’n bedryfsgerigte probleem aanspreek nie, sal dit nie sommer befonds word nie. Die uiteinde moet wees dat ’n produsent beter onkruid- en siektebeheer kan toepas, sy insette meer doelgerig kan gebruik, en uiteindelik meer volhoubaar kan produseer,” sê hy.
Navorsing wat hieruit gespruit het, sluit in uitdagings soos Fall Armyworm in Afrika, onkruiddoderweerstand, swamdodersensitiwiteit en omgewingsvriendelike alternatiewe. Daar is ook ’n deurlopende projek wat alternatiewe vir sianiedgebaseerde produkte soek – iets wat toenemend onder regulatoriese druk in die Europese Unie verkeer. Hierdie projek het reeds belowende resultate in ’n eerste toetsfase gelewer.
“Landboukundiges en gewasadviseurs is ’n skaars vaardigheid in Suid-Afrika. Ons glo vas dat volhoubare, meerjarige borgskap veel meer waarde skep as kortstondige projekfinansiering, juis omdat dit geakkrediteerde, gestruktureerde opleiding moontlik maak.
“Die leerstoel het nou reeds 100 beurse moontlik gemaak, waarvan die meerderheid op nagraadse vlak, met 17 beurse wat in 2025 toegeken is. Studente werk aan werklike bedryfsprobleme, dikwels in direkte samewerking met die sektor, wat beteken dat hulle nie net kwalifikasies verwerf nie, maar ook konteks, insig en praktiese vaardighede,” sê Vermaak.
Benewens navorsing het hulle ook meer onlangs jaarlikse studentevoorleggings aan ’n paneel van akademici en bedryfsverteenwoordigers deel van die leerstoel gemaak. Vermaak sê dit bied nie net aan studente blootstelling aan die bedryf nie, maar gee ook vir hulle die geleentheid om talent te identifiseer.
Johan Huyser, bestuurder: navorsing, ontwikkeling en innovasie by Villa Crop Protection, meen hierdie vennootskap dra ook by tot die herposisionering van die gewasadviseur.
“Die idee van die ‘gifsmous’ is nie net onregverdig nie; dit is gevaarlik. Vandag se gewasadviseurs is hoogs opgeleide kenners wat produkte tot op molekulêre vlak verstaan – hoe dit met ’n gewas interaksie het, hoe dit afbreek, en hoe dit verantwoordelik toegepas moet word,” sê Huyser.
Meer oor die leerstoel
Villa Crop Protection het sowat 15 jaar gelede besef dat die bedryf nie volhoubaar kan groei sonder beter gestruktureerde, toegepaste opleiding vir landboukundiges nie en is toe in 2012 versterk met die stigting van die Villa Academy, onder leiding van dr. André Schreuder. Van hier het die inisiatief gegroei en daar is besluit om dit as ’n projek na die US te skuif.
Volgens Vermaak was hierdie skuif noodsaaklik: “In gewasbestuur kan ons nie net volgers wees nie. Navorsing moet begin lank voordat ’n produk die mark bereik, en dit verg deurlopende samewerking tussen die bedryf en die akademie.”
Net oor WUSA die borg van hierdie leerstoel is, beteken dit nie dat hulle die aard van die navorsing bepaal nie. Luidens die verklaring bepaal die universiteit self die navorsingsagenda.
Kotzé meen dat dit ruimte skep vir onafhanklike, akademiese navorsing waar hulle neutraal kan toets, vergelyk en terugvoer gee wat vir die hele bedryf relevant is.
Met uitdagings soos klimaatsverandering wat produksietoestande toenemend onvoorspelbaar maak, skuif die fokus ook na datagedrewe besluitneming. Volgens Vermaak speel tegnologie ’n al hoe groter rol in gewasbestuur.
“Ons sien ’n sterk dryf na meer geïntegreerde, data-gedrewe kundigheid. Dit gaan nie net oor plantgesondheid nie, maar oor hoe al hierdie elemente saamwerk om risiko te bestuur en opbrengs te beskerm,” sê hy.
WUSA sê dat hul langtermynvisie is om vooruitgang in landbou deur kennis, mense en oplossings te lei.
“Voedselsekerheid, volhoubaarheid en kundigheid is nie opsioneel nie, maar eerder die kern van ons bestaansreg. Hierdie leerstoel help ons om dit verantwoordelik en doelgerig te doen,” sê Vermaak.







