Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het sy eie dissiplinêre komitee se aanbeveling verontagsaam deur nie iemand af te dank wat vermoedelik gehelp het om R150 miljoen van Daybreak Foods te plunder nie.
Die DA is diep bekommerd oor dié inligting, wat hierdie week in 'n parlementêre komitee bespreek is.
Luidens die DA se verklaring het Abel Sithole, uittredende uitvoerende hoof, erken dat die OBK nie Bongani Mathebula, maatskappysekretaris, afgedank het nie.
Luidens die Mpati-kommissie van ondersoek se verslag oor die OBK se beleggingsbesluite wat in Maart 2020 uitgereik is, het die kommissie aanbeveel dat die OBK-direksie Mathebula se heraanstelling ondersoek.
Dit is volgens die DA onduidelik of die OBK dit ooit ondersoek het.
Adrian Lackay, wat tans in die OBK se kantoor vir beleggingsverhoudinge werk, het in reaksie op Netwerk24 se navraag gesê die OBK is Woensdag tydens 'n aanbieding aan die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) baie gedetailleerde vrae gevra wat die korporasie nie volledig kon beantwoord nie.
"Om te vermy om die parlement te mislei, het die OBK gevra om 'n skriftelike antwoord aan Skoor te verskaf oor besluite deur die vorige direksie oor die ampstermyn van die OBK se maatskappysekretaris."
Die voorsitter van die komitee het ingestem en die OBK is besig met die antwoord, sê hy.
'n Ondersoek deur Sunday Times in 2022 het bevind dat Mathebula die OBK se eie reëls oortree het deur Lerato Nage as direkteur van Daybreak aan te beveel.
Sunday Times het geraam dat R150 miljoen van Daybreak, wat ten volle deur die OBK besit word en nou in sakeredding is, onder Nage se voorsitterskap na maatskappye van Pule Malahlela gevloei het.
Dit is na bewering gedoen met behulp van fiktiewe, opgeblase, dubbele en vals fakture vir werk wat nie gedoen is nie.

Mathebula is ook die voormalige sakevennoot van Malahlela.
Die DA sê indien daar notules van die direksievergadering bestaan waar dit formeel die Mpati-kommissie se aanbeveling aanvaar om te ondersoek of Mathebula se heraanstelling grondig was, eis die DA dit.
"Die DA sal voortgaan om verantwoordbaarheid by die OBK en Daybreak na te streef. Openbare pensioengeld kan nie sonder gevolge geplunder word nie," lui die verklaring.
Daybreak in sakeredding
Daybreak is in Mei in sakeredding geplaas, ná likwidasieaansoeke van krediteure wat nie betaal is nie en 'n hofsaak oor die barbaarse behandeling van hoenders op sy eie broeiplase en die plase waar hoenders vir die pluimveeprodusent grootgemaak is.
LEES OOK | Beleërde Daybreak pak skuld vir wonde op ‘hoenderspore'
Die OBK is die staatsbeheerde batebestuurder wat die aftreegeld van staatsamptenare namens die Staatspensioenfonds (GEPF) bestuur. Hy belê ook die geld van die Werkloosheidsversekeringsfonds en die Vergoedingsfonds.
Sithole het onlangs in 'n meningstuk in Sunday Times geskryf hoewel daar bedryfs- en bestuursuitdagings by Daybreak is, glo die OBK dat die kritiek teen hom 'n "onvolledige en misleidende beeld" skep.
"Die OBK voer aan dat die voortgesette sakereddingproses nie gesien moet word as 'n teken van dreigende likwidasie of 'n algehele verlies nie. Hy beskou dit eerder as 'n strategiese en wetlik gesonde metode om die maatskappy te stabiliseer, meer as 3 000 werkgeleenthede te behou en uiteindelik waarde vir sy kliënte, hoofsaaklik staatspensioenarisse, te herstel."
Daybreak verskaf 7% van Suid-Afrika se pluimvee, wat sy voortgesette bedrywighede noodsaaklik maak vir nasionale voedselsekerheid, volgens Sithole.
- stefani.terblanche@media24.com
• Dié berig is aangepas met die OBK se kommentaar, wat ná publikasie ontvang is.
https://www.da.org.za/2025/06/da-concerned-that-the-pic-is-protecting-a-potential-daybreak-looter













