'n Baanbrekende vennootskap tussen InteliGro en die Noordwes-Universiteit (NWU) se besigheidskool is in Mei gesluit vir die ontwikkeling van 'n spesiaal-ontwerpte driejaar-opleidingsprogram.
Die loodsprojek, waarin 10 jong InteliGro-adviseurs tans opgelei word, is daarop gemik om sakeopleiding met die maatskappy se gevestigde tegniese benadering te kombineer.
Die inisiatief bou voort op InteliGro se gevestigde Certified Crop Advisor (CCA)-program, waarin daar oor die afgelope vyf jaar meer as 90 adviseurs landwyd ontwikkel is.
Volgens Janet Lawless, bemarkingsbestuurder van InteliGro, vereis die veranderende landbou-omgewing 'n meer holistiese benadering tot adviseur-ontwikkeling.
Adviseurs wat die program voltooi, sal 'n formele kwalifikasie ontvang wat hul loopbaanontwikkeling en geloofwaardigheid versterk.
Evolusie van gewasadvies
Die nuwe uitgebreide program dek 'n wye spektrum van gebiede: persoonlike ontwikkeling, bedryfsbestuur, strategiese entrepreneurskap, toekomsgerigtheid, finansiële bestuur, doeltreffende kommunikasie en praktiese landbou-implementering.
Dié veelkantige benadering verseker dat adviseurs toegerus word vir die komplekse werklikhede van moderne boerdery.
"Die verskil lê in die gehalte van die gewasadviseur. Kennis is op sy eie nie meer genoeg nie. Klimaatsverandering, markverskuiwings en regulatoriese druk verg kritiese denke en sake-insig. Daarom fokus die program op selfontwikkeling, bedryfsbestuur, strategiese entrepreneurskap, toekomsgerigtheid, finansiële bestuur, doeltreffende kommunikasie en praktiese landbou-toepassing," sê Lawless.
Die grondslag vir die inisiatief is stewig gelê deur InteliGro se interne CCA-program, wat meer as vyf jaar gelede ingestel is. Vandag neem meer as 90 adviseurs aan die gestruktureerde ontwikkelingsinisiatief deel, elk met 'n persoonlike groeiplan wat tegniese opleiding, mentorskap en loopbaanbeplanning insluit.
Stephan Venter, 'n leerling-gewasadviseur van Wolmaransstad, beskryf die impak: "Die CCA-program rus my toe met waardevolle kennis om oplossings vir kliënte te bied. Die sakekursus verbreed my perspektief en beklemtoon die belang van fokus en dissipline. Ek glo dit gaan my help om my eie onderneming beter te bestuur."
Die program se kurrikulum word voortdurend bygewerk gegrond op die nuutste navorsing en praktiese ervaring. Kernonderwerpe sluit in gewasfisiologie, voeding en beskerming, besproeiingsbestuur, toedieningstegnologie en grondvrugbaarheidsoptimalisering.
Vennootskappe versterk impak
Lawless sê dit hou groot waarde in om met universiteite en ander instansies saam te werk.
"Die vennootskap met die NWU, en ook ons moedermaatskappy, WinField United SA, se betrokkenheid by die Universiteit Stellenbosch, bevorder navorsing, tegnologiese vooruitgang en toegang tot die nuutste kennis op plaasvlak.
"As 'n verskaffer van geïntegreerde gewasoplossings wat op kundigheid en tegniese advies geskoei word, stel InteliGro nou 'n nuwe standaard en produsente wéét hulle kry kundigheid.
"Ons fokus bly daarop om in elke gewasadviseur 'n betroubare vennoot te hê wat produsente help om sukses te behaal," sê Lawless.
Niel Kruger, uitvoerende bestuurder van die primêre besigheidskanaal, beklemtoon die strategiese waarde: "Wat ons adviseurs onderskei, is nie net hul tegniese vaardighede nie, maar ook hul vermoë om vooruit te beplan. Hulle moet huidige behoeftes hanteer én beplan vir die toekoms op gebiede soos wisselbou, weerstandbestuur, biologiese oplossings, tegnologie-hulpmiddels, alternatiewe beheeropsies en marktoegangs-vereistes."
InteliGro se benadering tot produsent-ondersteuning is veelvlakkig en sluit in doelgerigte opleiding, tegniese hulp, mentorskap, gewasspesialisering en gewaswerkgroepe. Die geïntegreerde strategie help produsente om risiko's proaktief te bestuur en volhoubare boerdery-praktyke te vestig.
"Die vermoë om toekomstige tendense te identifiseer en daarvolgens strategieë te ontwikkel, beteken dat ons gewasadviseurs baie goed geposisioneer is in die bestuur van boerdery-uitdagings," sê Kruger.
Vertroue die sleutel tot sukses
Volgens Kruger is dit die kombinasie van tegniese kundigheid, strategiese visie, tegnologiese vaardigheid en die regte persoonlikheidsprofiel wat die InteliGro-span laat uitstaan.
"Dié benadering maak nie net die volhoubare sukses van landbou as sektor moontlik nie, maar gee produsente ook die gemoedsrus dat daar 'n sakevennoot aan hul sy is wat saam met hulle die uitdagings in die bedryf aanpak en help om geleenthede aktief te ontgin.
"Vertroue vorm die fondament van 'n suksesvolle produsent-adviseur-verhouding.
"Produsente moet op hul adviseurs as 'n betroubare vennoot kan staatmaak vir komplekse besluite.
"Die verhouding berus op deurlopende oop kommunikasie, ervaring, kundigheid en bewese resultate wat jaar ná jaar nagestreef word."
"Die CCA-program dien as ons eie vertrouensindeks. Ons weet dit begin op die plaas - en dit is waar ons die verskil maak," sê Kruger.











