Makadamia Expo
Boere en belanghebbendes wat ’n spesiale belangstelling in makadamias het, kan volgende week die AmberMacs Macadamia Expo in Mpumalanga bywoon.
Hierdie ekspo vind van 5 tot 6 Februarie 2026 in Witrivier plaas en is die grootste gespesialiseerde makadamiageleentheid in Suid-Afrika en bied ’n geleentheid om kennis regdeur die waardeketting te deel.
Suid-Afrika is steeds ’n topuitvoerder van makadamias en dra sowat 30% van wêreldproduksie by met ’n jaarlikse oes van sowat 85 000 ton.
Vanjaar sal die ekspo se program fokus op aktuele uitdagings en praktiese besluitneming vir produsente. Daar sal onder meer ’n makro-ekonomiese oorsig deur die ekonoom Dawie Roodt wees en onderwerpe soos grondregstelling, biologiese insekbestuur en die toepassing van plantfisiologie in besproeiingsbesluite sal bespreek word.
Besoek ambermacs.com vir meer inligting. Aanlyn registrasie is verpligtend en beperk tot 3 000 besoekers. Kaartjies kos R75 per persoon op Quicket.
Oesparade 2026
Die jaarlikse Stellenbosch Oesparade vind môre weer plaas om die oes van 2026 te vier.
Met kleurvolle sierwaens en lekker musiek, sal die parade deur die strate beweeg tot by sy bestemming waar die oes geseën sal word. Die parade is ook daar om dank te toon aan die boere en plaaswerkers – diegene wat deel is van die parade.
Die oesparade skop 09:00 by die Toy and Miniature-museum in Stellenbosch in Markstraat af en beweeg af teen Alexander-, Bird-, Kerk- en Pleinstraat en sal teen 09:30 by die stadsaal arriveer. Daar sal die oes geseën word en dan beweeg die parade terug op dieselfde roete na die beginpunt.












