Landbou

Minder reën rede tot kommer

(Foto: )

Tydens die Sandveld Aartappelkwekersorganisasie (Sako) se jaarvergadering in Mei is die waterkwessie van die Sandveld bespreek met ’n kenner wat waarsku dat die area warmer en droër word.

Die jaarvergadering wat in die NG kerksaal in Lambertsbaai gehou is, het begin met Monique Coetzee, voorsitter van Sako, wat sê die bedryf in die Sandveld is bekommerd oor die departement van waterwese en sanitasie se ekologiese reserwebepaling van die area se waterbronne deur die departement van waterwese en sanitasie. Volgens haar kan hierdie bevindinge ’n negatiewe impak op die toekoms van die Sandveld se aartappelboerdery hê.

Sy is veral bekommerd dat die departement se aanbeveling ’n oorhoofse aanbeveling is, want weens die komplekse aard van die Sandveld verskil elke deel van die area se beskikbaarheid en gehalte van water aansienlik van mekaar.

“ ’n Oorhoofse aanbeveling kan nie vir die hele gebied gemaak word nie. Dit is belangrik dat deurlopende monitering gedoen word om waterbestuur te verbeter, en ingeligte en doelgerigte besluite te neem,” sê sy.

Stephanie Midgley, ’n spesialiswetenskaplike vir klimaatsverandering by die Wes-Kaapse landboudepartement, het ’n voorlegging gedoen waarin sy wys dat die Weskus warmer raak – veral as dit by nagtemperature kom.

“Klimaatsverandering is reeds aan die gebeur. In die Weskus kan ons sien dat temperature reeds styg, maar dit word warmer in die nag en nie in die dag nie.

“Daar is ook dele van die Weskus waar winterreënval verminder het.”

Haar navorsing toon dat die Sandveld se temperature teen 2060 tussen 1,5 °C en 3 °C hoër kan wees.

Midgley het meer vertel oor studies wat dui dat Mediterreense gebiede soos die Wes-Kaap warmer en droër word. Volgens haar dui reënval-studies op groter uitdroging gedurende die herfsmaande oor die winter se frontale winterreënvalstelsels later as voorheen kom en die reënvalseisoen later begin.

Daar is ook reënvalmodelle wat ’n afname van tot 40% in reënval voorspel en het die risiko van ’n matige droogte in die Wes-Kaap van een in 10 jaar tot twee in 10 jaar verander. Boonop kan die risiko vir rampe ook verhoog.

Volgens haar kan hierdie veranderinge risiko’s vir die Sandveld inhou wat meer wind en storms, mis, siektes en peste, en veldbrande insluit, maar sy sê dat daar nie genoeg data is om dit te bewys nie.

(No Credit)
CTA