Met haar rou talent het Jenedine Jantjies (25) vanjaar triomfeer as die wenner van die 2025 Agri’s Got Talent-kompetisie.
Hierdie kinderoppasser op die Endulini-sitrusplaas in Patensie in die Oos-Kaap het die beoordelaars bekoor met haar weergawes van die liedjies “This is Me” en “One and Only”.
Agri’s Got Talent is ’n sangkompetisie vir landbouwerkers en word geborg deur Hortgro, die Sitrusprodusentevereniging, die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf, SA Wine, en die Wes-Kaapse landboudepartement, met bykomende ondersteuning van FruitFly Africa en Culdevco.
“Ek is mal oor alle musiek en hou nie net van een genre nie.
“My droom is om my eie musiek op te neem en om jongmense in my gemeenskap te inspireer om hul drome na te jaag.
“Daar is ’n rede hoekom ek deel is van hierdie kompetisie, vir die blootstelling en geleentheid om my gemeenskap te verteenwoordig. Ek is ontsettend dankbaar,” sê Jantjies
In die tweede plek was Clayton Mentoor (27), ’n seisoenale werker in die kernvrugbedryf by Kromco buite Grabouw, en in die derde plek was Mervin Williams (30) van DGB naby Wellington.
Laastens het Sandeline Mouers, van Bo-plaas 1743 in Simondium, die spesiale prys gewen vir die beste uitvoering in ’n inheemse taal wat deur die Afrikaanse Taalraad geborg is.














