Die Wes- en Noord-Kaap het 'n ryke geskiedenis wanneer dit kom by die aanbied van outentieke landbouskoue. Nie net bied dit vermaak vir oud en jonk nie, maar dit bring ook gemeenskappe saam en sorg ook vir daardie broodnodige finansiële inspuiting vir plattelandse ekonomieë. Landbouskoue is ook een van Agri-Expo se hooffokusse. Samantha van den Berg het meer gaan uitvind.

Landbouskoue is van onskatbare waarde vir die landboubedryf, sowel as vir die plattelandse gemeenskappe en ekonomieë wat 'n hupstoot kry.
Skoutyd in die platteland is 'n lewendige viering van landbou én die dorp en sy mense - en bring oud en jonk byeen.
Volgens Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, is hulle al baie jare die spreekbuis vir en van landbouskoue in die Wes-Kaap - sowel as groot gedeeltes van die Noord-Kaap.
"Agri-Expo se betrokkenheid by plattelandse skoue het begin toe regeringshulp aan skoue gestaak is en iemand moes ingryp om te voorkom dat landbouskoue uitsterf. Agri-Expo het hierdie rol sedert die middel-1990's vervul en kan daarom met trots sê dat hierdie skoue, wat lid is van Agri-Expo, meer is as die totale getal skoue in die res van die land," sê hy.
"Agri-Expo lewer nie net 'n finansiële bydrae nie, maar staan ook skoue by met raad en kundigheid deur die loop van die jaar. As 'n landbougenootskap is Agri-Expo se primêre doel om landbou te bevorder deur middel van skoue, ekspo's, kompetisies en ander geleenthede. Dit is dan presies wat Agri-Expo doen deur middel van sy ledeskoue. Die moontlikhede by skoue is legio - jeug, inligting uitruil, bemagtiging, vaardigheidsontwikkeling en meer. Dit is hierdie geleenthede wat vir Agri-Expo opgewonde maak oor landbouskoue!"
Só sê skou-organiseerders
Volgens Wilhelm Steenkamp van die Williston-skou sorg hul skou nie net vir 'n groot finansiële inspuiting vir die hele dorp nie, maar dit gee die hele gemeenskap sommer 'n geestelike en emosionele hupstoot.
"Van die koöperasie tot die vulstasies en ons gastehuise word ondersteun. Daardie naweek vind die hele dorp baat by die skou. Dit bring ook ons plaaslike boere bymekaar, waar hulle 'n bietjie met hul diere kan skou en hulself teen mekaar meet. Daarbenewens maak ons dorpsinstansies ook 'n paar rand. Ons skou is van ongelooflike waarde vir ons as gemeenskap."
Williston se skou word jaarliks in Februarie gehou en volgens Steenkamp kom daar baie mense van buite daardie naweek om dit te kom ondersteun. "Op Saterdae met die perdekampioenskappe is die perde-ring vol - mense eet, drink, kuier en ondersteun die deelnemers. Die meerderheid van hierdie mense is buitemense. Daar is nie meer skoue om Williston self nie, so ons skou trek jonk en oud."
Steenkamp meen die droogte waaronder die dorp die laaste paar jaar deurgeloop het, het die boere en, op sy beurt, die skou geknou aangesien mense minder geld het om te bestee in hierdie uitdagende tye.
Dít gesê, het die positiewe gees wat die skou onder gemeenskapslede skep dit nog meer waardevol vir dorpenaars gemaak. "Ek is self 'n boer en weet watter impak die droogte fisiek, finansieel en emosioneel op my gehad het. As jy egter by die skou is en jy saam met ander kuier, besef jy dikwels dat jou probleme dalk kleiner as iemand ander s'n is. Daarmee saam lig die positiewe gees en die lekker kuier daar ook mense se gemoedere."
Volgens Steenkamp is die toekoms van landbouskoue beslis 'n uitdagende een, maar dit is van kardinale belang dat dit voortleef.
"Om 'n skou aan te bied en staande te hou, het jy 'n hele gemeenskap nodig om na die skou om te sien. Ons het skoue nodig om ons kinders lief te maak vir landbou, die Karoo en die diere wat in hul omgewings voorkom. Daar is 'n goeie toekoms vir landbouskoue, maar dit moet ondersteun word. Daarmee saam is ek ook positief oor Agri-Expo se betrokkenheid by landbouskoue en die planne wat ons het om hierdie skoue groter te maak."
Volgens Pieter van Wyk van die Riversdal-skou is die grootste doel van landbouskoue om landbou na dorpe en stede te bring, 'n gemeenskap bymekaar te bring en mense geïnteresseerd in landbou te hou.
"Ons skou se leuse is ‘eg plattelands' en van ons skoukomitee se kant af probeer ons 'n regte landbouskou aanbied vir oud en jonk in 'n feestelike atmosfeer. Dit is ook die grootste gebeurtenis wat jaarliks in ons dorp plaasvind."
Van Wyk verduidelik dat die skoubestuur deurentyd poog om die hele gemeenskap by die skou te betrek. Die ouer dorpenaars in die tehuise op die dorp kry byvoorbeeld jaarliks 'n gratis ontbyt en besoek aan die skou, terwyl 'n gesamentlike erediens op die laaste dag van die skou die hele gemeenskap byeenbring.
Op die Donderdag van die skou is dit hoofsaaklik jeugdag en 'n volledige jeugprogram word dan aangebied. Volgens Van Wyk word die jeugdag met 'n groot atletiekbyeenkoms afgesluit - ongetwyfeld een van die gewildste gebeurtenisse op die program wat baie goed bygewoon en ondersteun word.
"Dit is vir ons belangrik dat Jan Alleman landbouskoue besoek, veral in die platteland, aangesien ons landbou ons sakeondernemings voed. Dit is al 'n ou sêding dat as dit goed gaan met landbou, gaan dit goed met die ondernemings, skole, en kerke op die dorp. Ek glo landbouskoue hou landbou modern en maak mense deurentyd bewus van wat in die bedryf aangaan."
Laaste sê
Volgens dr. Dirk Troskie, die Wes-Kaapse departement van landbou se direkteur van sakebeplanning en strategie, is 'n ten volle funksionele skou 'n bate vir 'n dorp.
Hy meen deur skoue te ondersteun (hetsy deur skenkings of deur deelname) maak die departement dus 'n bydrae tot die ekonomiese van landelike gebiede.
"Ons is tot 'n mindere of meerdere mate betrokke by al die landbouskoue in die Wes-Kaap. Ons het 'n rooster uitgewerk en as 'n minimum sal een of meer van ons senior bestuurders by elkeen van die skoue wees. Ons het alreeds die name met die betrokke skoupresidente gekommunikeer. By vier van die skoue (George, Nampo Kaap, Beaufort-Wes en Clanwilliam) sal ons ook 'n uitstalling van ons dienste en tegnologie hou."
Volgens Troskie hoor hulle dikwels dat mense nie weet wat die departement vir hulle beteken of hoe om met hulle kontak te maak nie. "Ons kliënte (die boere van die provinsie) is alreeds by die skoue. Dus, in plaas daarvan om 'n tent in die hoofstraat van die dorp op te slaan en op 'n mogge troffe-manier met mense te praat, is die mense by 'n skou reeds by die landbou betrokke of hulle het 'n belangstelling in boerdery. Ons sien 'n landbouskou dus as die ideale geleentheid om met ons kliënte te kommunikeer."
Vir meer inligting, besoek Agri-Expo se webwerf hier.
- Hierdie artikel vorm deel van 'n reeks oor Agri-Expo se betrokkenheid by landbou in die Wes-Kaap.
- Agri-Expo het vir hierdie artikel betaal.
Dagboek hierdie datums:
Maak seker jy besoek hierdie Agri-Expo-ledeskoue en ander skoue wat vanjaar nog in die Wes- en Noord-Kaap plaasvind:
- Lutzville-landbouskou
2 tot 5 AUGUSTUS 2023
- Wes-Kaapse Landbou-Veterane-ekspo: George
4 tot 5 AUGUSTUS 2023
- George-landbouskou
24 tot 27 AUGUSTUS 2023
- Porterville-skou
1 tot 2 SEPTEMBER 2023
- Swartlandskou: Moorreesburg
6 tot 9 SEPTEMBER 2023
- Nampo Kaap*: Bredasdorp
13 tot 16 SEPTEMBER 2023
- Tulbagh-skou:
28 SEPTEMBER tot 1 OKTOBER 2023
- Robertson-lenteskou:
3 tot 7 OKTOBER 2023
- Villiersdorp-skou:
12 tot 14 OKTOBER 2023
- Loeriesfontein-landbouskou:
20 tot 21 OKTOBER 2023
- Prins-Albert-skou:
19 tot 21 OKTOBER 2023
- Loxton-skou*:
8 en 9 DESEMBER 2023
Vir meer, besoek die skoue se webwerwe of sosialemediaplatforms.















