Landbou

Tau optimisties oor hernuwing van Agoa

Voertuie word by die hawe in Durban nagegaan voordat hulle uitgevoer word.
Voertuie word by die hawe in Durban nagegaan voordat hulle uitgevoer word. (Foto: Reuters)

Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, is optimisties dat die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) steun van die Demokrate én Republikeine het en hernu sal word.

’n Amptenaar van die Withuis het Maandag aangedui dat Amerika ’n jaar lange verlenging van dié handelsooreenkoms met 32 Afrika-lande suid van die Sahara ondersteun.

Agoa maak voorsiening vir die tariefvrye uitvoer van meer as 1 800 produkte van dié lande na Amerika.

Suid-Afrika se belangrikste uitvoerprodukte onder Agoa sluit voertuie, voertuigenjins, ferro-allooi, sitrusvrugte, juweliersware, neute, chemikalieë, wyn, turbines en skepe en bote in.

Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging.
Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging. (Foto: Gallo Images)

Die huidige Agoa-ooreenkoms verstryk op Dinsdag 30 September nadat dit in 2015 deur die Obama-administrasie met tien jaar verleng is.

Suid-Afrika, een van die begunstigdes van Agoa, hou as maande asem op oor of die Trump-administrasie, wat in Augustus ’n 30%-invoertarief op die land ingestel het, die ooreenkoms gaan kanselleer of hernu.

‘Wye ondersteuning’

Tau het Dinsdag in ’n verklaring verwys na sy besoek aan New York en Washington DC verlede week waar hy samesprekings met Jamieson Greer, Amerikaanse handelsverteenwoordiger, en Amerikaanse kongreslede gevoer het, terwyl pres. Cyril Ramaphosa in New York met Republikeinse en Demokratiese kongreslede vergader het.

“Die oorhoofse boodskap was dat daar in die kongres wye steun oor die spektrum heen is vir die hernuwing van Agoa,” sê Tau.

Daar is egter vrae oor die tydperk van hernuwing, oor wanneer Agoa hernu sal word, asook oor die wetgewende meganisme vir hernuwing.

Volgens Tau blyk dit dat Agoa vir ’n kort tydperk, tussen ’n jaar en drie jaar, hernu kan word om die Amerikaanse kongres tyd te gee om wysigings bekend te maak. Die tydsberekening sal afhang van die wetgewende meganisme wat die kongres gaan gebruik om Agoa te hernu.

Sommige kongreslede het gemaan dat Agoa wel op 30 September kan verstryk, maar dat daar gepoog sal word om dit so gou as moontlik daarna te hernu.

Reuters het Dinsdag berig die enigste realistiese wetgewende roete is om Agoa te verbind met ’n wetsontwerp vir die finansiering van Amerikaanse regeringsdienste waaroor die Republikeine en Demokrate tans haaks is.

Suid-Afrika gaan ook voort om deur sy ambassade in Washington DC en met die ondersteuning van die departement van handel, nywerheid en mededinging met belanghebbendes te skakel.

“Die prioriteit is om Agoa te hernu, selfs al is dit vir ’n kort tyd, ten einde Suid-Afrika se uitvoer na Amerika te ondersteun,” sê Tau.

Statistieke

Syfers van die Amerikaanse Internasionale Handelskommissie toon handel tussen Suid-Afrika en Amerika het in 2024 $20,4 miljard beloop. Suid-Afrika se uitvoer het $14,6 miljard hiervan bedra en invoer $5,8 miljard.

$4 miljard of 28% van Suid-Afrika se uitvoer na Amerika was ingevolge Agoa, insluitend die algemene stelsel van voorkeur, en 72% ingevolge die mees-gunstige-nasie-regime.

Die Trump-administrasie het in Augustus aangekondig dat Suid-Afrika onderhewig is aan ’n 30%-invoertarief.

36% van Suid-Afrika se uitvoer na Amerika is tans daarvan kwytgeskeld. Dit sluit koper, farmaseutiese produkte, halfgeleiers, houtprodukte, sekere kritieke minerale, vlekvryestaal-skroot, energie en energieprodukte in.

Toby Chance, DA-LP, het die vordering in die onderhandelinge tussen Suid-Afrika en Amerika verwelkom. “Ons moenie net bloot die 30%-tarief wat van Augustus af van toepassing is, verwyder en Agoa hernu kry nie. Ons moet ’n baie meer ambisieuse handelsooreenkoms beding wat aandag gee aan die twee nasies se prioriteite ten opsigte van die ekonomie, handel en veiligheid.”

Cosatu het sy kommer uitgespreek oor die “pynlike impak” wat die verstryking van Agoa en die 30%-tarief op poste hier sal hê.

“Die onsekerheid is ’n bron van groot kommer en angstigheid vir duisende werkers en hul gesinne wat geraak kan word. Ons kan eenvoudig nie verdere werkverliese bekostig in ’n ekonomie wat met ’n 42,9%-werkloosheidskoers sukkel nie.”

Dit is volgens die vakverbond van kritieke belang dat die regering ingrypings versnel en maatreëls instel as ’n buffer vir geraakte werkers, sakeondernemings en sakesektore.

– philda.essop@24.com

CTA