Dit is 70 jaar sedert die Vryheidsmanifes opgestel is, waarin dit gestel word dat die mense sal deel in die land se rykdom, het Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, Maandag gesê.
Hy het by die opening van die Mynbou-indaba in Kaapstad gesê die regering het verlede jaar 'n studie oor die stand van mynbou laat doen. Dit was omdat mense gesê het die mynboubedryf is aan die agteruitgaan. Maar volgens Mantashe het die studie gewys dit is net die goudmynbedryf wat aan't verswak is, die res van die bedryf is aan die groei.
Die studie het ook na kritieke minerale gekyk. Selfs steenkool is volgens Mantashe 'n kritieke mineraal omdat die steenkoolbedryf een van die groot werkskeppers in die land is.

Maak geld en skep dan werk
"Mynbou is steeds 'n grondslag van die ekonomie. As jy in Suid-Afrika kom investeer, is dit om geld te maak. Dit is meer eerlik as om te sê jy wil werk skep."
As mynboubeleggers geld maak, sal hulle mense in diens neem, sê Mantashe.
Die goudmynbedryf neem steeds 90 000 mense in diens en het 96 ton goud in 2023 geproduseer. Maar onwettige mynbou is steeds 'n probleem. Mantashe het dit weer bevraagteken waarom die regering gevra word om humanitêre hulp aan misdadigers te verleen. Dit is mense wat vrywillig 'n gevaarlike plek betree.
"Hul minister is die minister van polisie, nie die minister van mynbou nie."
Hy het beleggers gevra om in die platinum-, mangaan- en koperbedryf te belê, asook in steenkool.
"Koning Steenkool is terug. Mense het die grafskrif van steenkool voortydig geskryf."
Nikkel, chroom, vanadium, litium ensomeer is die minerale van die toekoms. Hy meen die definisie van kritieke minerale is breër as net groen-minerale.
As jy in Suid-Afrika kom investeer, is dit om geld te maak. Dit is meer eerlik as om te sê jy wil werk skep.
— Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne
Strategie na kabinet
Die regering se strategie oor mynbou gegrond op die studies oor die stand van die mynbou en oor kritieke minerale word nou gefinaliseer en sal binnekort aan die kabinet voorgelê word vir goedkeuring, het Mantashe gesê.
Suid-Afrika het 37% van die wêreld se mangaanreserwes. Dit is versprei oor die Noord-Kaap, waar daar meer skape is as mense, aldus Mantashe.
Maar om waarde toe te voeg tot al dié minerale is bekostigbare en betroubare elektrisiteit nodig.
Volgens hom het kenners van Kanada, Namibië en Botswana die land gehelp om die nuwe kadasterstelsel op die been te bring. Dit sal die proses om vir mynregte aansoek te doen versnel.
Motorbedryf
Martina Biene, besturende direkteur van Volkswagen Suid-Afrika, het op die indaba gesê die motorbedryf is baie afhanklik van die mynboubedryf vir onder meer koper, staal, aluminium en ook litium, kobalt en nikkel, wat noodsaaklik is vir batterye vir elektriese voertuie.
Die prys van dié metale raak die produksiekoste van voertuie. Die motorbedryf se bydrae tot die BBP is tans 5% teenoor die mynbedryf se 6%.
- francois.williams@24.com











