Tegnuus

AI-tiesjoe! KI ontwerp 16 splinternuwe virusse

’n Kunsmatige intelligensie-model het nuwe virusse ontwerp.
’n Kunsmatige intelligensie-model het nuwe virusse ontwerp. (Getty Images)

Net wanneer jy dink jy het alles oor kunsmatige intelligensie (KI) gehoor, laat nuwe verwikkelinge die mond oophang.

Nou het wetenskaplikes KI-modelle, genaamd Evo1 en Evo2, opgelei in die kuns van DNS en gevra om resepte vir genome vir virusse te ontwerp.

Die gevolg? 16 daarvan was lewensvatbaar en het splinternuwe virusse opgelewer. En dit blyk dié verwikkeling moet in sekere opsigte as baie positief eerder as skrikwekkend beskou word.

The New York Times berig dit skep hoop vir mediese vooruitgang in die behandeling van siektes.

Die steurende moontlikheid bestaan natuurlik ook dat dit gebruik kan word om gevaarlike patogene te ontwikkel.

Volgens ’n nuwe studie wat Donderdag in die vaktydskrif Science gepubliseer is, het wetenskaplikes aan die Universiteit van Stanford en die Arc-instituut, ’n navorsingsinstelling in Kalifornië, KI opgelei om patrone in DNS-strukture in die natuur raak te sien en om dié data dan te gebruik om resepte te skryf vir splinternuwe virusse.

Die navorsers het toe die resepte gevolg en DNS-molekules geskep wat hulle in bakterieë geplant het. Die gewysigde bakterieë het toe nuwe virusse geskep wat nog nooit vantevore in die natuur gesien is nie. Die virusse was daartoe in staat om ander bakterieë te infekteer, wat demonstreer dat die virusse lewensvatbaar is.

Die virusse wat deur KI ontwerp is, hou nie ’n bedreiging vir mense in nie, want hulle is baie soortgelyk aan ’n natuurlike virus met die naam Phi X-174, wat net bakterieë kan infekteer.

Die BBC berig die 16 virusse was doeltreffend daarmee om die E. coli-bakterie dood te maak. Dié verwikkeling beteken in beginsel dat nuwe maniere gevind kan word om infeksies wat teen antibiotika weerstandig is, te behandel. Dit het die potensiaal om “mense se gesondheid op ’n massiewe wyse te verbeter”, lui die BBC-berig.

The Independent berig die nuwe verwikkeling kom wel saam met ’n sterk waarskuwing. Wetenskaplikes sê dis ook gevaarlik omdat die tegnologie vinniger ontwikkel as die vermoë om dit veilig te gebruik.

“Hoewel dit belowend is vir die lewenswetenskappe, laat dit ook dringende vrae ontstaan oor bioveiligheid,” skryf prof. Tom Inglesby en dr. Moritz Hanke van die Center for Health Security van die Johns Hopkins-Universiteit in Baltimore.

“Die vermoë om virale genome met generatiewe KI saam te stel, bestaan nou; die regulasies om dit veilig te bestuur, bestaan nie.”