Amazon is in gesprek om sowat $10 miljard in OpenAI, skepper van ChatGPT, te belê, maar die gesprekke is nog “baie vloeibaar”, sê ’n bron wat anoniem wil bly omdat die gesprekke privaat is.
Die potensiële ooreenkoms beklemtoon die kunsmatige intelligensie (KI)-sektor se meedoënlose vraag na rekenaarkrag namate maatskappye jaag om stelsels te bou wat met menslike intelligensie meeding of dit oortref.
Maatskappye soos Nvidia en Oracle het vanjaar KI-ooreenkomste van etlike miljarde dollars met OpenAI onderteken. OpenAI het ook in November ’n ooreenkoms van $38 miljard onderteken om wolkdienste van Amazon te koop.
Beleggers is egter op hul hoede vir tekens dat die vraag na KI verflou of die massiewe besteding nie die verwagte vrugte gaan dra nie.
Die bespreking tussen Amazon en OpenAI kom op ’n tydstip dat die KI-reus die grondslag lê vir ’n aanvanklike openbare aanbod wat die maatskappy tot op $1 000 miljard kan waardeer.
Die benadering onderstreep OpenAI se vermoë om wyd saam te werk nadat hy wegbeweeg het van sy winsbejaglose oorsprong en sy ooreenkoms met Microsoft afgehandel het.
Die Microsoft-ooreenkoms maak van OpenAI ’n openbare weldaadsorganisasie wat beheer word deur ’n organisasie sonder winsbejag met ’n belang in OpenAI se finansiële sukses, wat groot beperkings verwyder op sy vermoë om kapitaal in te samel en toegang tot rekenaarvermoë te verkry.
Microsoft het ’n belang van 27% in OpenAI en die eksklusiewe reg om OpenAI-modelle aan sy wolkdienskliënte te verkoop.
OpenAI, Amazon en Microsoft het nie onmiddellik op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.
The Information, wat eerste oor die gesprekke verslag gedoen het, berig OpenAI beplan om Amazon se Trainium-skyfies te gebruik, wat meeding met Nvidia en Google se skyfies, en Amazon se finansiering kan tot ’n breër geldinsamelingsronde met ander beleggers lei.
OpenAI ondersoek ook die moontlikheid om ’n ondernemingsweergawe van ChatGPT aan Amazon te verkoop, maar dis onduidelik of die ooreenkoms voorsiening maak vir die integrasie van ChatGPT-kenmerke soos aankope-kenmerke wat Amazon vir sy eie apps ontwikkel, lui die verslag.












